AfriForum lê klag by Openbare Beskermer oor beweerde korrupsie by NSFAS

Die burgerregteorganisasie AfriForum het ’n formele klag by die Openbare Beskermer (OB) ingedien oor bewerings van korrupsie waarby dr. Blade Nzimande, minister van Hoër Onderwys, en die voorsitter van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) se voorsitter, Ernest Khosa, betrek word. AfriForum vra in sy klag aan die OB dat die bewerings van korrupsie, wat in ’n verslag deur die Organisasie Teen Belastingmisbruik (OUTA), onthul is, ondersoek moet word.

Benewens dié klag het AfriForum ook ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) by NSFAS ingedien en onder meer die rekords aangevra van ooreenkomste aangegaan tussen NSFAS en die vier diensverskaffers aan wie die bod toegeken is vir die direkte betalings van geld aan NSFAS-begunstigdes – Coinvest Africa, Tenet Technology, Ezaga Holdings, and Norraco Corporation. AfriForum het ook ’n afskrif van die kontrak wat aan Vision Wave toegeken is, aangevra. Vision Wave, waarvan Nzimande se raadgewer, Tilson Manyoni, die besturende direkteur is, het in 2022 ’n NSFAS-tender van R44 miljoen ontvang.

Charné Mostert, veldtogbeampte by AfriForum, sê korrupsie het al byna elke Suid-Afrikaanse staatsonderneming geïnfiltreer. “AfriForum sal die OB-klag en die PAIA-aansoek as toepaslike meganismes gebruik om te help toesien dat die skuldiges in dié sake aanspreeklik gehou word. AfriForum sal ook self ondersoek instel om die waarheid hieroor bloot te lê. Dit is onaanvaarbaar dat politici en ander invloedryke rolspelers by staatsondernemings hul mag misbruik om hulself op ’n oneerlike wyse finansieel te verryk,” verduidelik Mostert.

“Korrupte amptenare moet die gevolge dra van hul optrede wat die lewens van duisende studente oor die hele land heen raak. Terwyl voorsitters en ministers se beursies bult danksy groot tenders, ontvang talle studente net briewe waarin hul aansoek om finansiële hulp by NSFAS afgekeur word. NSFAS het baie studente sedert 2023 laat wag op die uitbetaling van toelae, terwyl ’n verwagte begrotingsbesnoeiing van 10% vir 2024 se NSFAS-toelae aangekondig is. Begrotingsbesnoeiings gaan nie die finansiële wanbestuur regruk nie. Hierdie skema is oorspronklik vir minder bevoorregte studente op die been gebring, maar in hierdie stadium word net politieke kaders bevoordeel,” sluit Mostert af.

Soortgelyke plasings