|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

Die eerste maand van die jaar is byna verby en AfriForum het reeds heelwat suksesse bereik. Die takke regoor die land het ook ingespring om met watervoorsiening te help, skoon te maak en op te ruim.

’n Groot oorwinning is vandeesweek in die Mpumalanga Hooggeregshof behaal toe dié hof beslis het dat die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling in Mpumalanga die staatsgesubsidieerde inwoners van Sunfield Home Fortuna se subsidiebedrag in ooreenstemming met inflasie moet verhoog. Dié tehuis, wat na fisiek en verstandelik gestremde persone omsien, het AfriForum in 2022 om hulp genader nadat hulle subsidiebedrag die afgelope 15 jaar dieselfde gebly het.

Twee mans is ná byna twee jaar in die Swartruggens-landdroshof skuldig bevind aan stropery en tot 18 maande tronkstraf gevonnis. Dié saak, wat 10 keer uitgestel is en selfs ’n keer van die rol geskrap is, is uiteindelik afgehandel nadat AfriForum se privaatvervolgingseenheid ingegryp het.

Tsholofelo Joseph Motsoane, wat teregstaan op die moord van Schalk Pienaar, ’n prominente prokureur van Mokopane, se misdaadgeskiedenis het tydens sy borgtogaansoek in die Mokopane-landdroshof aan die lig gekom. Die Pienaar-gesin het die privaatvervolgingseenheid genader nadat daar verskeie vertragings met die afhandeling van die saak was.

AfriForum het ook ’n formele klag by die Openbare Beskermer ingedien oor die korrupsiebewerings waarby dr. Blade Nzimande, minister van Hoër Onderwys, en die voorsitter van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) se voorsitter, Ernest Khosa, betrek word.

’n Beroep is op die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing gedoen om onmiddellik op te tree om die ernstige bedreiging wat waterslaai tans op die Vaalrivierstelsel het, te bekamp. AfriForum het die departement gewaarsku dat die ongekontroleerde verspreiding van waterslaai verskeie nadelige gevolge inhou vir die watergehalte, biodiversiteit en die algehele gesondheid van die akwatiese ekostelsel.

AfriForum se Bethal-tak het saam met plaaslike ondernemings en boere van die omgewing gewerk om noodwaterpunte vol te maak, asook water aan skole en ander noodsaaklike entiteite te verskaf. 11 dorpe word tans deur ’n watertekort geraak nadat Rand Water weens ’n stukkende transformator noodgedwonge moes ophou om water na die Bloemendal-pompstasie te pomp. ’n Nuwe noodwaterpunt is by die Gereformeerde Kerk Bethal opgerig waarvoor AfriForum se Middelburg-tak vyf watertenks geskenk het.

AfriForum se regspan het ’n finale aanmaningsbrief aan die Mangaung Metro gestuur oor die Metro se volgehoue swak vullisverwydering. AfriForum het lede in die Rosestad verlede jaar aangemoedig om ’n aansoek vir die kansellasie van die metro se vullisverwyderingsdiens in te dien sodat hulle eerder voortaan van privaat diensverskaffers gebruik kan maak.

AfriForum se Rayton-Cullinan-tak en verskeie rolspelers vanuit dié gemeenskap het die sypaadjies langs die R515-hoofweg skoongemaak deur gras te sny, bome te snoei en onkruid op die stroke te verwyder. Die AfriForum-tak in Centurion se buurtspan het ook saam met gemeenskapslede in Kloofsig meer as ’n ton vullis verwyder. Hulle het gras gesny, bome gesnoei en opgekerf en nagenoeg 3 000 m2 is skoongemaak.

Die Benoni-tak het met fase een van hul opruimingsprojek by die Benoni-stadsaal begin en die sypaadjie in Prinseslaan skoongemaak. Die Springs-tak het by die jaarlikse Springs Striders-wedloop veiligheid bevorder en verkeersbeheer toegepas.

Die AfriForum-tak in Lichtenburg het reeds 12 ton teer gebruik om slaggate in Bantjesstraat te vul en oorblywende teer is gebruik om ’n sloot wat regdeur Beyers Naude-rylaan loop, te herstel.

AfriForum se Kaapse kantoor het ’n televisie aan die Vredenheim Akademie geskenk, wat deur die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) ondersteun word.

Die organisasie se gemeenskapsveiligheidsafdeling het sy eerste streeksveiligheidsnetwerk in die Suid-Kaap op die been gebring. Dié steunkring gaan ’n geïntegreerde benadering tot veiligheid en samewerking oor ’n gebied van nagenoeg 12 000 km2 tussen AfriForum se buurt- en plaaswagte in George, Oudtshoorn, Mosselbaai en Knysna bewerkstellig.

Lede van AfriForum-buurtwagte in die Laer Suidkus het praktiese opleiding in vuurwapenhantering ontvang.

Soortgelyke plasings