|

150 sakke vullis opgeruim in Bethal

AfriForum se Bethal-tak het vroeër vandeesmaand 150 sakke vullis in dié dorp opgeruim as deel van die #Ons Dorp-veldtog. Met dié veldtog takel plaaslike gemeenskappe uiteenlopende selfdoenaksies in dorpe oor die hele land heen.

Die Bethal-tak se skoonmaakprojek was hierdie keer toegespits op Davelweg en Kerkstraat in die omgewing van die Dierebeskermingsvereniging (DBV)-kantoor, terwyl boere van die Kippen-omgewing die Davel-grondpad skoongemaak en opgeruim het. Dit is juis dié boere se inisiatief wat aanleiding gegee het tot die skoonmaakprojek in Davelweg.

Intussen word nog ’n skoonmaakprojek vir Bethal beplan. Hierdie keer sal die fokus val op die opruiming van die veld langs die munisipale werkswinkels, die gebied aangrensend aan die Total Janmari-vulstasie en die oop veld oorkant die Nestlé-huise.

Kobus du Plessis, ’n plaaslike boer wat ook by die skoonmaakaksies betrokke is, het ’n dringende beroep op die gemeenskap gedoen om die omgewing te respekteer en nie rommel te strooi nie.

“As ons almal net kan begin om die rommel op te tel, sal Bethal een van die dae ’n nuwe baadjie kan aantrek. Deur hierdie projek pak die Bethal-tak egter die bul by die horings en wys dat gemeenskappe wat saamstaan, ’n daadwerklike verskil kán maak. Rommel in Bethal bied talle uitdagings aangesien dit nie net nadelig is vir besighede nie, maar ook ernstige gesondheidsrisiko’s kan inhou,” sê Hennie Bekker, AfriForum-distrikskoördineerder vir die Hoëveld.

Inwoners word versoek om AfriForum se Bethal-tak te ondersteun. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings