AfriForum lewer indringende kommentaar op voorgestelde wysiging van Skolewet


Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag ’n regsmening met indringende kommentaar op die voorgestelde wysiging van die Skolewet, 1996 (wet no. 84 van 1996), ingehandig. Dié wysigingswetsontwerp het onder meer ten doel om die bestuursmagte van skoolbeheerliggame beduidend in te perk.
Die skole wat die ergste deur hierdie wetsontwerp geraak gaan word, is juis skole wat tans die beste gehalte van onderrig bied en waarby ouergemeenskappe betrokke is, ongeag die sosioekonomiese omstandighede van die gemeenskap.

“Die wetsontwerp bevat wel positiewe bepalings, onder meer strenger beheer van alkoholgebruik op skoolterreine en die beperking van beheerliggaam- en personeelbelange om onregmatige besigheidsgebruike te voorkom. AfriForum is egter van mening dat die wanpraktyke wat by enkele skole voorkom nou as verskoning gebruik word om skoolgemeenskappe al meer van hul magte te ontneem en dié mag in die hande van die regering te sentreer. Die voorgestelde wysigingswet beïnvloed ook skole se vermoë om funksies aan te bied en hierdeur ekstra fondse in te samel – iets waarvan skole uiters afhanklik is,” sê Carien Bloem, projekkoördineerder vir onderwys by AfriForum.

AfriForum se kommentaar is gebaseer op die volle omvang van Konstitusionele Hof-uitsprake in hierdie verband, en nie net selektiewe gedeeltes van dié uitsprake soos wat die geval met die wetsontwerp is nie. Verder dui AfriForum se kommentaar duidelik aan dat baie van die voorstelle in die wetsontwerp die gevolg is van die huidige swak prestasie deur en wanadministrasie van die departement van onderwys – en nie weens gebreke in huidige wetgewing nie.

“Die wysigingswet is dus grootliks onnodig. Die departement moet in baie gevalle eerder sy plig nakom deur byvoorbeeld meer funksionerende skole te bied vir die duisende leerders wat nie toegang tot skole en gehalte-onderrig het nie.”

AfriForum se kommentaar is indringend en bevat spesifieke voorstelle en kritiek met die oog op verdere regsaksie as daar nie op dié kommentaar ag geslaan word nie.
Ouers, onderwysers en lede van die publiek is welkom om AfriForum in sy poging te ondersteun en R10 te skenk deur jou naam en die woord “Skolewet” na 38313 te SMS.

Soortgelyke plasings