ANC-wanbestuur knou stede – gemeenskappe moet selfdoenoplossings nastreef


Die burgerregte-organisasie AfriForum sê dat die ANC se wanbestuur stede tot op die rand van ineenstorting gebring het en dat gemeenskappe en gemeenskapsinstellings self hul stede moet help herstel.
Nhlanhla Nene, minister van finansies, het op 9 April self erken dat talle Suid-Afrikaanse stede weens trae ekonomiese groei en wanbestuur op die rand van mislukking is. Zweli Mkhize, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, het ook onlangs gesê dat slegs 7% van munisipaliteite na behore funksioneer.

“Nene het egter in gebreke gebly om uit te wys dat sy eie party, die ANC, hiervoor verantwoordelik is al is hulle nie tans aan bewind in groot stede soos Johannesburg en Pretoria nie. Koalisieregerings in beheer van hierdie stede het enorme agterstande en korrupsie geërf ná meer as 20 jaar van volgehoue en doelbewuste ANC-wanbestuur. Die trae ekonomiese groei is ook grootliks te wyte aan die ANC-beheerde nasionale regering se wanbestuur,” sê dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum.

Volgens Brink is dit waarskynlik dat die ANC in die afsienbare toekoms weer beheer van verskeie stede, wat tans onder die beheer van hoogs onstabiele koalisies is, gaan oorneem.

“Die ANC het weer wind in sy seile met pres. Cyril Ramaphosa aan die stuur en die party is goed geposisioneer om miljoene stedelike kiesers wat nie in 2016 gaan stem het nie, terug te wen. Dit blyk ook dat die EFF eerder koalisies met die ANC as met die DA wil aangaan. Dít sal goeie regering nog verder knou, omdat hierdie partye dieselfde destruktiewe ideologieë van onder meer kaderontplooiing aanhang.”

Brink sê hoewel samewerking met die staat rakende dienslewerings- en bestuurskwessies wenslik is en nagestreef moet word, is dit telkemale nie moontlik nie.

“Gemeenskappe en burgerlike instellings sal op die lange duur selfdoenoplossings vir probleme in hul woongebiede en munisipaliteite moet vind, omdat die staat dikwels nie die vermoë of wil het om dít te doen nie. AfriForum se vele suksesse op hierdie gebied wys byvoorbeeld dat gemeenskapskrag sterker as staatsmag is,” sluit Brink af.

Soortgelyke plasings