|

AfriForum lewer veiligheidsaanbieding aan Simondium-boere

Die burgerregteorganisasie AfriForum se Stellenbosch-tak het op 20 September hul nuwe landelike veiligheidstrategie aan die boeregemeenskap van Simondium voorgelê.

In dié aanbieding het Jac Pietersen, Tommy van Zyl en Bernard Pieters, al drie verbonde aan AfriForum se Kaapstad-kantoor, oor die nuwe veiligheidsplan uitgebrei asook hoe die Simondium-gemeenskap daarby kan inskakel.

“Ek glo dat die Simondium-gemeenskap en die SAPD-lede wat teenwoordig was met die plan en die potensiaal daarvan beïndruk is. Dít wat ons hier wil regkry, sal ’n eerste in Suid Afrika wees. Die ondersteuning van ons gemeenskappe en netwerkvennote is van kardinale belang vir die geslaagdheid en implimentering hiervan,” sê Jac Pietersen, die Stellenbosch-tak se voorsitter vir gemeenskapsveiligheid.

“AfriForum se benadering is dat ons gemeenskappe en bestaande strukture versterk deur goeie samewerkende ooreenkomste aan te gaan. Daar sal altyd plek wees vir tradisionele veiligheidstrukture, wat ’n area patrolleer, maar ’n goed gestruktureerde en georganiseerde inligtingstelsel wat gemeenskappe met mekaar verbind en ondersteun is noodsaaklik vir sukses in ons landelike gemeenskappe,” sê Bernard Pieters, verbonde aan AfriForum se Kaapstad-kantoor.

“Die AfriForum-veiligheidsgordelplan is onlangs in Stellenbosch bekendgestel en het gepaard gegaan met ’n fondsinsamelingsgeleentheid. Na afloop van die funksie is die eerste hommeltuig vir die AfriForum-tak in Stellenbosch bestel en ons is in die proses om nog aan te koop,” sê Pieters.

AfriForum het reeds twee geakkrediteerde hommeltuig-vlieëniers vir die Stellenbosch-omgewing en twee in die Simondium-omgewing opgelei.

Raak vandag nog by jou naaste AfriForum-tak of -buurtwag betrokke en help om ’n verskil te maak. Stuur ’n e-pos aan johan.crous@afriforum.co.za, of SMS “Stellenbosch” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings