|

Debatspanne presteer in noordstreeksuitdun van Dink of Sink-debatskompetisie

In die laaste streeksuitdun van AfriForum se Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie wat by die Hoërskool Montana in Pretoria plaasgevind het, het die deelnemers opnuut bewys hoe flink die jeug op hulle voete kan dink. Die uitdun was ’n reusesukses danksy die elf deelnemende skole se entoesiasme en die puik reëlings en gasvryheid van die Hoërskool Montana.

In 2020 en 2021 moes die kompetisie noodgedwonge virtueel plaasvind, maar vanjaar kon die spanne uiteindelik weer in persoon kragte meet, wat die gehalte van die debatte tot nuwe hoogtes gevoer het.

Benewens die spanne van Montana, het 29 junior en 23 senior spanne van die Hoërskole Ermelo, Nelspruit, Zwartkop, Waterkloof, Oos-Moot, Overvaal en Menlopark, asook die Afrikaanse Hoër Meisieskool, Afrikaanse Hoër Seunskool en Helpmekaar-kollege aan die kompetisie deelgeneem.

Na afloop van die middag se uitdunne, het die twee beste junior en twee beste senior spanne die aand in ’n semifinaal by ’n gala-geleentheid teen mekaar te staan gekom om die noordstreek se wenspanne te bepaal.

Tydens die gala-geleentheid het die deelnemers en gaste heerlik saamgesing met die gaskunstenaar, Eloff.

Nantes Kelder van De Goede Hoop-koshuis in Pretoria het as gasspreker oor keuses, ouers se verhoudings met hulle kinders en die rol van onderwysers in leerders se lewens gepraat.

Ná ’n vurige debat tussen die toptwee junior spanne, het Danielle Wilkinson, Emile du Toit en Thea Kotzé van Helpmekaar-kollege uit die stryd teen die Afrikaanse Hoër Meisieskool se Amoré Knoetze, Mikayla de Jongh en Yani van Heerden getree.

In ’n ewe fel debat tussen die twee beste senior spanne, was die wenners die Afrikaanse Hoër Meisieskool se Megan Jones, Miné Hermann en Megan Kruger. Hulle het te staan gekom teen die Afrikaanse Hoër Seunskool se Wernich Barkhuizen, Righardt Pretorius en Juan Schoeman.

AfriForum is die borg van die kompetisie en aanbieder van die nasionale finaal, wat op 8 Oktober 2022 in Centurion sal plaasvind.

Aan die stuur van die kompetisiereëlings staan Nicolene Müller, AfriForum se konsultant vir Dink of Sink, en Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake. Hulle het hul dank aan al die deelnemers, die Hoërskool Montana en in die besonder aan die hoof, Martin Botha, en bemarker, Reinette Deetlefs, oorgedra. “Die kompetisie by die Hoërskool Montana is altyd ’n belewenis – geen moeite is vir hulle te veel om almal welkom te laat voel nie,” het Bailey gesê.

“Die spanne se energie en debatsvernuf het ons diep beïndruk en ons sien uit na die nasionale kompetisie om te bepaal wie die junior en senior nasionale kampioene gaan wees,” het Müller bygevoeg.

Die uitslag van die nasionale finaal van 8 Oktober sal in Beeld, asook op www.dinkofsink.co.za en AfriForumTV bekendgemaak word.

Soortgelyke plasings