|

AfriForum #VegEnBou in Warmbad

AfriForum se Warmbad-tak het op 15 September sy #VegEnBou-projek by Laerskool en Hoërskool Warmbad van stapel gestuur. Dié tak het ’n veiligheidsoudit gedoen om die veiligheid van die leerders te evalueer en die nodige veranderings aan te bring deur gestruktureerde aanbevelings te maak. Die Warmbad-tak het ook by die Warmbad-ouetehuis ’n veiligheidsoudit gedoen en ’n peperbasboom (Warburgia salutaris) geplant. Verder het die tak hulle deurlopende volhoubare projek, wat parke skoonhou voortgesit en die Apiesdoringspark skoongemaak.

Op 16 September het  dié tak opknappingswerk by dié hoërskool se ingange, in samewerking met Anda Fourie van The Bela Bela Times, gedoen, en ’n peperbasboom by die Laerskool geplant. Die tak het ook die dorp se riool- en drinkwater getoets en sal die resultate binnekort bekendmaak.

Op 17 September is daar wors by die Ons winkel in Warmbad gebraai en elke persoon, wat ’n skenking aan die winkel gemaak het, kon ’n gratis worsbroodjie geniet. Die tak het ook op die betrokke dag die dorp se S-draaie skoongemaak.

Die tak het ook onlangs ’n nuwe grassnyer aangekoop wat die tak in staat sal stel om die parke in Warmbad volhoubaar in stand te hou.

“So skep hierdie tak hoop in die gemeenskap, die tak het nie net geverf, geplant en opgeknap nie, maar ook gewys dat die krag van ’n gemeenskap soveel verder strek as die van die staat,” sê Magdel Jansen Van Vuuren, AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo.

“Ons tak se krag lê in die volgehoue ondersteuning van ons lede, wat almal saam #VegEnBou om ’n verskil te maak,” sê Carin Botha, sekretaris vir AfriForum se Warmbad-tak.

Gemeenskappe moet eienaarskap van hul omgewing neem deur proaktief en selfstandig by gemeenskapsprojekte betrokke te raak. Elke daad en inisiatief dra by om ’n daadwerklike verskil in die welstand van gemeenskappe te maak.

Raak by jou plaaslike AfriForum-tak betrokke. SMS “jou naam” na 45340 (R1).

Soortgelyke plasings