|

Kabeldiewe loop hulle vas teen Bothaville-buurtwag

Die AfriForum-buurtwag in Bothaville het die afgelope naweek weer die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gehelp om drie kabeldiewe vas te trek. Die verdagtes wou koperkabels by ’n plaaslike skrootwerf verkoop toe die eienaar lont geruik het en die een verdagte se ID-dokument gekopieer en die verkopers toe weggewys het. Die Bothaville-buurtwag is gekontak en die inligting is aan hulle oorhandig, hulle het dit toe aan die SAPD oorhandig. Die verdagte se adres is bekom en die buurtwag is saam met die SAPD daarheen. Drie verdagtes is op die perseel gearresteer met die gesteelde koper, wat hulle by ’n plaaslike onderneming gesteel het, in hulle besit.

Dié buurtwag was in die afgelope twee maande betrokke by die arrestasie van nege verdagtes. Die goeie samewerking tussen die SAPD en die Bothaville-buurtwag maak dit vir die diewe moeiliker om hulle wandade te pleeg.

“Baie dankie aan die Bothaville-buurtwag wat uitstekende werk in Bothaville lewer. Ek wil ook graag die eienaar van die skrootwerf wat standpunt inneem teen misdaad, bedank. As alle skrootwerfeienaars só optree, sal hierdie tipe misdaad begin doodloop. Dit is ook lekker om te weet dat ons buurtwagte goeie verhoudings met die SAPD bou en sodoende voortdurende samewerking kweek.  Saam is ons sterker!” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Raak by die AfriForum-buurtwag in Bothaville betrokke en help om jou eie veiligheid te verseker. Kontak vir Deon van Dyk by 084 588 5261.

Soortgelyke plasings