AfriForum loods landwye #SkoonWater-projek


Die burgerregte-organisasie AfriForum het op 2 Mei 2019 sy #SkoonWater-projek vir 2019 by die Rosemoor-ouetehuis in George – as deel van die #AnkerdorpPadskou – van stapel gestuur. Takke landwyd is ook gemobiliseer om die drinkwater- en rioolwatergehalte in dorpe waar daar aktiewe AfriForum-takke is, te toets.

“Die regering is nie ernstig oor die gesondheid van Suid-Afrikaners nie. Dit is duidelik te bespeur uit die feit dat die departement van water en sanitasie (DWS) bankrot is en ’n parlementêre ondersoek in die gesig staar weens voormalige minister Nomvula Mokonyane se wanbestuur. Onder haar leiding is die laaste amptelike Blou- en Groendruppelverslag sewe jaar laas gepubliseer. Die ANC-regering probeer hul onbevoegdheid wegsteek deur inligting van die publiek en selfs die parlement te weerhou terwyl gewone mense daagliks onder dié waterkrisis gebuk gaan. Ons kan nie langer op die staat vertrou om veilige water te verskaf nie en daarom toets ons self die watergehalte,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se projekkoördineerder vir omgewingsake.

Die burgerregtewaghond het in 2018 met sy blou-en-groendruppelprojek verseker dat bykans 186 dorpe se drinkwatergehalte op peil is.

“AfriForum sal verseker dat enige besoedeling so gou moontlik opgelos word deur ’n aanmaning aan die betrokke munisipaliteit te stuur wat eis dat die probleem binne 48 uur reggestel word,” voeg De Klerk by.

AfriForum gaan verder ’n amptelike skrywe aan Gugile Nkwinti, nuwe minister van water en sanitasie, stuur. Dié skrywe sal onder meer eis dat:

  1. Die DWS weer jaarliks die amptelike Blou- en Groendruppelverslag sal publiseer om die land se watergehalte en die bestuur daarvan te belig;
  2. Daar in 2019/2020 vir die herstel van alle afvalwaterbehandelingsaanlegte begroot sal word;
  3. ’n Program geloods sal word om waterbesoedelaars aanspreeklik te hou (die regering is die grootste besoedelaar: 4 200 megaliter riool wat nie aan toepaslike gesondheidstandaarde voldoen nie, word daagliks in riviere en damme gestort);
  4. Daar in 2019/2020 vir die herstel van waterinfrastruktuur in die DWS se oorlog teen waterlekkasies begroot word (munisipaliteite verloor meer as 40% van hul drinkwater weens lekkende waterpype);
  5. Suid-Afrikaners wat bevoeg is om die land se waterstelsels te bestuur onmiddellik aangestel word;
  6. Die huidige organogram en struktuur van die DWS hersien word om oortollige poste uit te wys en te skrap en vakante poste te vul;
  7. Daar ontslae geraak word van onbevoegde amptenare en dié wat ’n geskiedenis van korrupte verhoudings het; en
  8. Alle afgehandelde ondersoeke van die DWS deur die spesiale ondersoekeenheid en onafhanklike konsultasiefirmas bekend gemaak word om deursigtige prosesse te verseker.

As die bewaarder van water kom die DWS nie sy verpligtinge na deur wetgewing toe te pas wanneer munisipale owerhede die skuldige party is nie. AfriForum is van mening dat ’n onafhanklike waterreguleerder steeds ’n betekenisvolle rol in Suid-Afrika kan speel om watergehalte, -voorsiening en -bestuur te verbeter.

“Indien Suid-Afrika ’n onafhanklike waterreguleerder het wat nie vir politieke inmenging vatbaar is nie en water- en dienstewetgewing kan afdwing, sou ons minder lekkasies, minder openbare klagtes en protes, skoner riviere en damme, gesonder gemeenskappe, ’n groeiende ekonomie én meer water gehad het,” sluit De Klerk af.

Is jou water skoon? SMS die naam van jou dorp na 45354 (R1) en gee AfriForum die mandaat om die gehalte van jou dorp se water te toets.

Soortgelyke plasings