AfriForum maak beswaar teen moontlike heraanstelling van munisipale bestuurder


Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag ’n skrywe aan die raad van die Lim 368 Plaaslike Munisipaliteit gerig om beswaar aan te teken teen die moontlike heraanstelling van O.P. Sebola, die huidige munisipale bestuurder. Dít volg nadat Sebola se naam op die kortlys vir heroorweging as munisipale bestuurder verskyn het.
AfriForum se redes hiervoor sluit in dat Sebola strafregtelike klagtes vir sowel swak munisipale bestuur as die besoedeling van waterbronne in die gesig staar. Sebola was ook ’n respondent in die hofsaak oor swak vullisterreinbestuur wat die burgerregtewaghond ’n maand gelede teen dié munisipaliteit gewen het. Die ouditeur-generaal (OG) se verslag gedateer 6 November 2017 bepaal verder dat die munisipaliteit se finansiële administrasie nie na wense was nie en as gevolg dáárvan het die munisipaliteit verskeie vrugtelose uitgawes gehad.
Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo, kan Sebola nie weer in hierdie posisie aangestel word nie indien sy rekord in ag geneem word.

“Dit is duidelik dat Sebola nie die welstand van die mense in die munisipale gebied op die hart dra nie. Onder sy beheer het wanbestuur op sowel finansiële as omgewingsvlak plaasgevind, wat tot groot nadeel van die dorp se inwoners was. Gemeenskappe is geregtig op munisipale bestuurders wat hul belange op die hart dra en na hul welstand omsien. Die gemeenskap betaal belasting en daarom versoek ons die raad om iemand aan te stel wat belastinggeld in belang van die gemeenskap aanwend.”

Soortgelyke plasings