|

Privaatvervolgingseenheid ondersteun nóg ’n slagoffer van valse bewerings van rassisme en geslagsgebaseerde geweld

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het vandag vir Danielle Barendse (20) gehelp om strafregtelike klagtes van aanranding en crimen injuria by die Wierdabrug-polisiekantoor in Centurion te lê. Dit volg ná ’n voorval op 8 Oktober 2022 by Barendse se werksplek by ’n onderneming in Centurion waartydens ’n manlike kliënt haar in die winkel rondgejaag en haar valslik as ’n rassis voor die hele winkel uitgekryt het. Die betrokke man is ’n werknemer van die Tshwane-metroraad.

Die privaatvervolgingseenheid het die nodige verklarings vir die polisiedossier opgestel, asook die SAPD van dokumentasie en beeldmateriaal voorsien wat in die dossier moet kom. Die eenheid gaan ook, indien nodig, vir Barendse help om ’n beskermingsbevel teen die man te bekom.

Op die dag van die voorval het Barendse gepoog om twee mans by te staan waarna die persoon teen wie die klagtes gelê is, haar agternagesit het toe sy van hom probeer wegstap het. Beeldmateriaal van die voorval wys dat die man klaarblyklik probeer keer dat sy van hom af wegstap en heeltyd haar persoonlike ruimte betree. Vanuit die beeldmateriaal blyk dit verder dat vier mense tussen Barendse en die beskuldigde moes intree nadat sy na die ontvangstoonbank gevlug en hy haar agternagesit het om te keer dat hy naby haar kom.

By die ontvangstoonbank het die man ook valse bewerings van rassisme gemaak deur aan almal binne hoorafstand te skree dat Barendse ’n rassis is en dat hy die EFF sal kry om die plek te kom toemaak.

“Valse bewerings van rassisme moet in ’n baie ernstige lig beskou word. Ons almal weet wat die ernstige implikasies is vir persone wat van rassisme beskuldig word, daarom moet mense wat valse bewerings soos hierdie maak, nie bloot toegelaat word om daarmee weg te kom nie. Mense kan nie valse bewerings van rassisme teen hulle net daar laat nie, want dit beteken dat hulle hierdie misdaad kondoneer. Daarom is ons trots op Danielle dat sy hierdie klagtes gaan lê het en die saak wil deurvoer,” sê Natasha Venter, adviseur by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Venter sê verder dat die man se aanvallende optrede vir Barendse oortuig het dat ’n aanval op haar op hande was en dat hy haar sou aanrand as sy nie van hom af wegkom nie. “Diesulke optrede stel die misdaad van aanranding daar. Ons almal weet hoe ernstig die pandemie van geslagsgebaseerde geweld in hierdie land is en daar behoort daadwerklik opgetree te word teen ’n man wat ’n 20-jarige meisie in haar eie werkplek rondjaag en haar dan boonop valslik uitkryt as ’n rassis,” sê Venter.

“Ek het hierdie saak gaan open omdat ek mense gekry het wat my ondersteun en my gehelp het met die proses. Ek doen dit nie net vir myself nie, maar ook vir die ander slagoffers van misdaad wat nie noodwendig die nodige ondersteuning het nie. Dit is vir my belangrik dat geregtigheid sal geskied,” sê Barendse.

Soortgelyke plasings