|

Parys-tak verkla Ngwathe-munisipaliteit oor onwettige kragverbindings

Die AfriForum-tak in Parys het vandag ’n klagte by die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (NERSA) ingedien oor onwettige en gevaarlike kragverbindings in Parys. Die tak het op 18 Augustus ’n brief aan die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit gestuur waarin hulle 48 uur gegee is om die onwettige verbindings te herstel – dié brief is ook aan die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (CoGTA) en die Vrystaatse Departement van Gesondheid gestuur.

Daar is op 22 Augustus inspeksie gehou en bevind dat niks aan die onwettige verbindings gedoen is nie. Die AfriForum-tak doen dus dringend ’n beroep op NERSA om in te gryp.

“Dit blyk dat die Ngwathe-munisipaliteit nie omgee dat hulle mense se lewens in gevaar stel deur hierdie onwettige praktyke toe te laat nie. ’n Werknemer van die munisipaliteit het vroeër vanjaar doodgeskok en steeds doen hulle niks nie. Ons hoop dat NERSA, CoGTA en die Vrystaatse Departement van Gesondheid die munisipaliteit tot verantwoording sal roep,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Volgens Petrus Coetzee, AfriForum se raadgewer vir Plaaslikeregeringsake, is dit NERSA se wetlike plig as energiereguleerder om te verseker dat elektrisiteitsverspreiders, soos die munisipaliteit, aan hulle lisensievoorwaardes voldoen en dat hulle die wet nakom. “Hierdie tipe agterlosigheid van die munisipaliteit stel die gemeenskap in gevaar. Dit sal uiters onverantwoordelik van NERSA wees indien hulle nie ingryp nie,” het Coetzee afgesluit.

Indien jy by die AfriForum-tak wil betrokke raak, kontak vir Schalk Burger, voorsitter van AfriForum se Parys-tak, by 082 653 4281.

Soortgelyke plasings