AfriForum neem regsaksie om deursigtigheid van Transnet-kontrakte te verseker

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) op Transnet beteken. AfriForum se aansoek eis onder meer inligting oor alle aktiewe kontrakte wat Transnet met sy diensverskaffers vir vervoer en sekuriteit gesluit het sowel as besonderhede oor die toestand van Transnet se hawe-, trein- en spoorinfrastruktuur. Laastens eis die PAIA-aansoek inligting oor die hoeveelheid kriminele klagtes van diefstal wat Transnet by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gelê het.

Die wanbestuur van ondernemings in staatsbesit het in een van die land se grootste krisisse ontaard. In die 2020/2021 verslag van die ouditeur-generaal (OG) is Transnet as een van die groot sondebokke ontbloot en vir R31,1 miljard onreëlmatige besteding en R140 miljoen vrugtelose en verkwistende uitgawes verantwoordelik.

“AfriForum was genoodsaak om hierdie regsaksie van stapel te stuur gegewe die ernstige mislukkings by Transnet. AfriForum gaan die inligting wat ons uit die PAIA-aansoek kry gebruik om die wanbestuur en korrupsie by Transnet aan die kaak te stel. AfriForum sal nie verbaas wees indien die PAIA-aansoek wys dat kontrakte aan onbevoegde diensverskaffers met politieke konneksies toegeken word nie,” sê Reiner Duvenage, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

Soortgelyke plasings