|

AfriForum sê PIRLS-internasionale studie toon hoe staat die land se kinders faal

AfriForum het met kommer kennis geneem van die tendense waarop die PIRLS 2021-verslag met betrekking tot die land en Suid-Afrikaanse onderwys dui. Dié studie se resultate is vandag aangekondig en skets ’n donker prentjie van die lewens- en onderwysgehalte in die land.

PIRLS is die afkorting vir die Internasionale Vereniging vir die Evaluering van Opvoedkundige Prestasie se studie oor die vordering met internasionale leesvaardigheid – Progress in International Reading Literacy Study. Dit word al die afgelope twintig jaar lank vyfjaarliks onderneem en bepaal die wêreldwye standaard van leesprestasies op graad 4 vlak. Die bevindings van 2021 se studie is vandag bekendgestel. Sowat 400 000 leerders in 57 lande se leesvernuf is daarvoor getoets.

Volgens Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum, toon die vergelyking tussen die deelnemende lande se agtergrondinligting die eerste gevaarligte oor toestande in die land. Volgens die verslag is die inwoners se lewensverwagting die laagste van al die deelnemende lande, naamlik gemiddeld 64 jaar. Daarenteen is die sterftesyfer van babas wat lewend gebore word, die hoogste van almal, naamlik 26 per duisend geboortes. Die naaste ander lande hieraan is Egipte en Azerbeidjan, beide met 17 sterftes per duisend geboortes.

Die studie toon verder dat Suid-Afrika een van vyf uit die 57 deelnemende lande is wat die grootste bedrag aan onderwys spandeer, naamlik ’n bedrag gelyk aan 7% van sy BBP. Die ander lande is Marokko (ook 7%), asook Noorweë, Swede en Denemarke (elk 8%). Die verhouding van leerders per onderwyser in Suid-Afrika is ook die hoogste van die 57 lande, naamlik gemiddeld 30. Iran is in die tweede plek met 29 leerders per onderwyser. Wat die persentasie kinders in die spesifieke ouderdomsgroep aanbetref wat skool bywoon, is Suid-Afrika in die vierde swakste posisie, met 87%. Daarna volg Bulgarye met 86%, die Slowaakse Republiek met 83% en Jordanië met 81%.

In die vergelykende studie van leerders se leesvaardighede in die onderskeie lande, beklee Suid-Afrika die laagste plek uit 43 lande. Die gemiddelde syfer vir internasionale leesprestasie is 500, met die beste land, Singapoer, wat 587 behaal het. Suid-Afrika se telling is slegs 288. Die verslag dui aan dat Suid-Afrikaanse owerhede nog die syfers ondersoek. Daar word verder genoem dat inisiatiewe aangekondig is om die land se prestasie te verbeter na die bekendmaking van PIRLS 2016 se resultate. Daarvolgens het Suid-Afrika die laagste posisie beklee uit die 50 lande wat toe aan die studie deelgeneem het. Verbetering word egter nog hoegenaamd nie in die huidige resultate gesien nie.

AfriForum loof plaaslike skole wat eilande van uitnemendheid is en kinders behoorlik met geletterdheid vir hulle lewe as volwassenes toerus, maar spreek ernstige kommer oor die grotere meerderheid skole se onderrig uit. “Die BELA-wetsontwerp wat tans weer vir openbare insette beskikbaar is, fokus op allerlei administratiewe en ideologiese sake, soos skole se taal- en toelatingsbeleid. Dit bedreig die funksionele skole, maar gaan geen bydrae lewer om die res se prestasies te verbeter nie. So word ons jeug se toekoms deur ’n disfunksionele staat gesteel,” sê Bailey. Sy doen ’n beroep op ouers om standpunt ten gunste van moedertaalonderrig in te neem, onderwysers en skole vir hulle prestasie aanspreeklik te hou, en skadelike wetgewing soos die BELA-wetsontwerp sterk teen te staan. “Die toekoms van ons kinders is in ons hande,” voeg sy by.

Soortgelyke plasings