|

Mafube verloor appèlaansoek; inwoners moet dienste kry

Die Mafube Plaaslike Munisipaliteit het op 28 Februarie 2022 vir ’n tweede keer in die Vrystaatse Hooggeregshof in Bloemfontein verloor nadat hulle geappelleer het teen ’n dringende interdik wat AfriForum in Julie 2021 teen hulle gekry het om die rioolinfrastruktuur van Frankfort in stand te hou. Die plaaslike munisipaliteit is se verlof tot appèl is met koste van die hand gewys.

Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se hoof vir Gemeenskapstrukture vir die sentraalstreek, is die munisipaliteit besig om inwoners se geld te mors deur hofsake te dryf eerder as om die probleme in die dorp op te los en verantwoordelikheid te neem. “Die munisipaliteit kon veel eerder die geld gebruik het om dienslewering in die dorp te verbeter en om die rioolinfrastruktuur in ’n werkende toestand te kry. Dit wil voorkom asof die munisipaliteit homself tot die hof wend net om nie dienste te lewer nie,” sê Grobbelaar.

Die interdik wat in 2021 toegestaan is, het die munisipaliteit verplig om die onwettige rioolstorting in die Wilgerivier te stop en te verhoed. Verder sluit die interdik ook die volgende in:

  • Die deeglike instandhouding van die Namahadi-pomphuis en Namahadi-rioolwerke.
  • Gereelde en deeglike inspeksie by die rioolwerke en dat herstelwerk gedoen word.
  • Watermonsters van die rioolaanleg moet op aanvraag aan AfriForum voorsien word.
  • Gereelde betalings moet aan Eskom gemaak word sodat krag na die rioolwerke en pompe nie afgesny word nie.

“Dit is sleg dat AfriForum en die gemeenskap eers die hof moes nader om die munisipaliteit te verplig om dienste te lewer, maar dit blyk of dit die enigste uitkoms is nadat talle pogings aangewend is om saam met die munisipaliteit te werk om die probleme uit die weg te ruim,” voeg Grobbelaar by.

AfriForum moedig die gemeenskap aan om by die organisasie betrokke te raak om sodoende druk te plaas op die regering om hul Grondwetlike verpligtinge aan die gemeenskap na te kom. SMS “riool” na 45344 (R1) om by AfriForum aan te sluit.

Soortgelyke plasings