AfriForum ondersoek regsopsies ná BLF se rassistiese uitsprake en aanhitsing tot geweld

 

AfriForum ondersoek tans verskeie moontlike regsopsies om die radikale organisasie Black First Land First (BLF) tot verantwoording te roep ná afloop van rassistiese uitsprake en aanhitsing tot geweld op verskeie geleenthede vanjaar.
Sowat 30 BLF-betogers het vandag tydens hul #RupertMustFall-optog die lied Kill the Boer Kill the Farmer by die Stellenbosch-spoorwegstasie gesing.
Die groep is kwaad oor aanmerkings wat Johann Rupert, voorsitter van die beleggingsmaatskappy Remgro, op Richmond se jaarvergadering in Switserland oor radikale ekonomiese transformasie gemaak het. Hy het onder meer daarna as ’n kodewoord vir diefstal verwys.
Die BLF-betogers het ook vandag tesame met lede van die ANC-jeugliga en MK-veterane voor Remgro se hek betoog en gedreig om gewelddadig te raak en die hek af te breek indien ’n verteenwoordiger nie sou uitkom nie. Die woorde “One Settler, One Bullet” is ook tydens dié betoging deur omstanders gedreun-sing.

“AfriForum beskou BLF se uitlatings in ’n baie ernstige lig. Die groep het reeds by verskeie geleenthede vanjaar rassistiese uitlatings gemaak wat geweld teenoor en moord op wit mense aanhits. Hoewel die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie die Kill the Boer Kill the Farmer-lied tot haatspraak verklaar het, beskou AfriForum dit ook as aanhitsing,” sê Ernst Roets, AfriForum se adjunk- uitvoerende hoof.

Roets sê voorts dat strafregtelike klagtes ingedien en verdere stappe binnekort aangekondig sal word.

Soortgelyke plasings