AfriForum se blou-en-groendruppelprojek: Wes-Kaap se watergehalte getoets


AfriForum se nasionale blou-en-groendruppelprojek fokus op die stand van dorpe se drinkwater en rioolaanlegte. Dit fokus nie noodwendig op die toestand van die aanleg self nie, maar wel op die gehalte van die water wat ná die proses as eindproduk in die vorm van drinkwater (bloudruppel) en behandelde rioolwater (groendruppel) gelewer word.
AfriForum het gedurende Mei en Junie 2017 ’n aantal dorpe en gebiede in die Wes-Kaap se water getoets om die gehalte van die munisipale drink- en rioolwater te bepaal.
Overstrand
Hier is vasgestel dat Pearly Beach, Gansbaai, Sandbaai, Kleinmond, Bettiesbaai en Rooiels se drinkwater skoon is en geen swaarmetale bevat nie, asook dat bakterieëvlakke aan gestelde standaarde voldoen. Die burgerregte-organisasie het egter sy kommer uitgespreek oor die rioolwater van Sandbaai wat nie aan gestelde standaarde voldoen nie.

Die Onrus-strandmeer toon ook tekens van rioolwater wat nie aan gestelde standaarde voldoen nie. “Die probleem met die Onrus-strandmeer is alombekend en ons sal voortdurend druk op die munisipaliteit plaas om ’n gesonde omgewing vir die inwoners te verseker,” sê Thomas van Dalen, AfriForum se provinsiale koördineerder vir die Wes-Kaap.

George en Mosselbaai
Daar is vasgestel dat George en Mosselbaai se drink- en rioolwater skoon is en geen swaarmetale bevat nie, asook dat bakterieëvlakke aan gestelde standaarde voldoen.
Daar is egter kommer oor die Hartenbosrivier wat hoë bakterieëvlakke toon, terwyl die watersuiweringswerke baie lae vlakke van bakterieë toon. Volgens Louis Cook, voorsitter van die AfriForum-tak in Mosselbaai, word die watersuiweringswerke se water in die Hartenbosrivier, waarvan die monding toe is, gestort.
Hessequa en Oudtshoorn
Die Hessequa-streek (wat Riversdal, Stilbaai en Heidelberg insluit) asook Oudtshoorn se drink- en rioolwater is getoets en daar is vasgestel dat dit skoon is en geen swaarmetale bevat nie, asook dat bakterieëvlakke aan gestelde standaarde voldoen.
Kaapstad
Toetse het vasgestel dat Kaapstad se drink- en rioolwater skoon is, geen swaarmetale bevat nie, asook dat bakterieëvlakke aan gestelde standaarde voldoen. Daar is egter kommer oor die Swartrivier, wat prominente bakterieëvlakke toon.
Matzikama Plaaslike Munisipaliteit
AfriForum se toetse het vasgestel dat Lutzville, Vredendal, Klawer en Vanrhynsdorp se drinkwater skoon is en geen swaarmetale bevat nie, asook dat bakterieëvlakke aan gestelde standaarde voldoen.
Daar is egter kommer oor Lutzville, Vredendal-Suid, Klawer en Vanrhynsdorp se rioolwater wat nie aan gestelde standaarde voldoen nie.

Soortgelyke plasings