|

Nuwe tak in Delportshoop spring weg met skoonmaakprojek

Die burgerregteorganisasie AfriForum het op 2 April ’n tak in Delportshoop gestig nadat talle inwoners in die dorp hul behoefte vir die stigting van ’n AfriForum-tak uitgespreek het.

Die bestuur bestaan uit Ampie Cockeran (voorsitter), Annette Doman (ondervoorsitter), Marisa Cockeran (sekretaris), Christine du Preez (tesourier), Jakes Leeuw (veiligheid) en Daniël Coetzee (plaaslikeregeringsake).

“Die meeste van die dorp se probleme spruit uit die swak dienslewering wat inwoners van die Dikgatlong Plaaslike Munisipaliteit ontvang. Delportshoop-inwoners sukkel geweldig met slaggate, elektrisiteitsprobleme, die gebrek aan kommunikasie vanaf die munisipaliteit en die algehele verval in die dorp wat grootliks te wyte is aan die gebrek aan instandhouding,” sê Lize-Mari van der Linden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo.

Die nuwe AfriForum-tak het vroeër die dag met ’n skoonmaakprojek begin om Delportshoop netjieser te maak en het ongeag die reënweer daarin geslaag om die gras te sny en vullis te verwyder.

“Daar is steeds baie wat gedoen moet word om die dorp te vervraai. Noudat daar gemeenskapslede is wat steeds die belange van die dorp op die hart dra, sal die instandhouding aansienlik makliker wees,” sê Van der Linden.

Die Delportshoop-tak beplan om ’n herwinningsprojek in die dorp te loods, om stukkende straatligte te vervang en om ’n slaggatprojek van stapel te stuur.

Die tak moedig die gemeenskap aan om by AfriForum betrokke te raak om ’n daadwerklike verskil te maak: SMS “Delportshoop” na 45344 (R1) om betrokke te raak.

Soortgelyke plasings