|

AFRIFORUM: ONTWIKKELING VAN INFORMELE NEDERSETTING BEDREIG VOORTBESTAAN VAN KAAPSE AASVOËL

Die burgerregteorganisasie AfriForum het op 3 September 2021 kommentaar ingedien teen die ontwikkeling van die Matlakeng Uitbr. 11- informele nedersetting. Dit volg ná talle inwoners van Zastron ongelukkig was oor die voorgestelde uitbreiding. Die kommentaar is gerig aan Sapphire Omgewingskonsultante, aan wie belanghebbendes kommentaar kon indien oor die voorgestelde ontwikkeling.

Die voorgestelde area vir ontwikkeling van die Matlakeng Uitbr. 11- informele nedersetting is geleë in die Zastron-gebied en val onder die Mohokale Plaaslike Munisipaliteit. Volgens die kommentaar wat deur AfriForum ingedien is, is daar ’n gedeelte van die ontwikkeling wat binne ’n bewaarde area, bekend as Aasvoëlberg, geleë is. Hierdie area is ’n broeiplek vir die bedreigde Kaapse aasvoëlspesie en ontwikkeling in hierdie area sal ernstige gevolge vir die aasvoëls inhou.

Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se streekshoof vir die sentraalstreek, kan daar nie toegelaat word dat die natuurlike broeiplek van die aasvoëls skade ly nie. “Die terrein wat voorgestel word vir ontwikkeling is ’n baie sensitiewe area en daarom kan die informele nedersetting nie daar opgerig word nie. Dit sal ’n massiewe negatiewe impak op die omgewing hê, sowel as vir die Kaapse aasvoël wat reeds ’n bedreigde spesie is en sukkel om voort te plant.”

Grobbelaar glo ook die swak dienslewering van die plaaslike munisipaliteit is ’n verdere rede waarom die ontwikkeling nie kan plaasvind nie. “Die dienslewering van die Mohokale Plaaslike Munisipaliteit is tans baie swak, en hulle versuim om selfs die basiese dienste in die dorp en aangrensende informele nedersetting te lewer. Die rioolwerke is buite werking en die vullisterrein word wanbestuur, tesame met verskeie ander probleme. Die munisipaliteit sal dit nie kan bekostig om dienste te lewer aan nog ’n nedersetting nie. Indien die ontwikkeling sou plaasvind, sal mense wat woonagtig is in die nuwe uitbreiding min of selfs geen dienslewering kry nie,” sluit Grobbelaar af.

AfriForum sal deurentyd die vordering van die saak dophou en verdere stappe doen indien nodig om te verseker dat die gemeenskap in Zastron se regte beskerm word en die natuur bewaar word.

Sluit vandag aan by AfriForum en help ons om dié kwessie te beveg. SMS “Zastron” na 45344 (R1) om betrokke te raak.

Soortgelyke plasings