AfriForum oorweeg regsaksie oor KSA se rassediskriminerende aanstellings

Die burgerregteorganisasie AfriForum het sy regspan opdrag gegee om moontlike regsaksie teen Krieket Suid-Afrika (KSA) te ondersoek. Dít volg nadat Krieket Suid-Afrika aangekondig het dat hulle voortaan daartoe verbind sal wees om slegs swart konsultante aan te stel in ’n poging om transformasie te versnel. Dié besluit is Maandag tydens ’n vergadering met die Departement van Sport en Ontspanning bevestig. 

“Krieket Suid-Afrika se besluit om uitsluitlik swart konsultante aan te stel, kan as niks anders as onregverdigbare rassediskriminasie beskou word nie,” sê Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum.

“AfriForum neem sterk standpunt in teen enige vorm van rassediskriminasie en sal gevolglik die nodige aksie neem wat hierdie saak aanbetref. Dit is kommerwekkend dat dit nou ’n algemene verskynsel geword het dat sommige vorms van diskriminasie verskoon word en as “noodsaaklik” of “positief” geregverdig word. Gevaarlike en blatante dubbele standaarde soos dié moet beveg word, en as ’n burgerregteorganisasie is dit presies wat AfriForum sal doen,” sluit Roets af.

Soortgelyke plasings