AfriForum oudit vullisterreine in die Laeveld


Die AfriForum-takke in die Mpumalanga Laeveld het onlangs agt vullisterreine geoudit as deel van dié burgerregte-organisasie se jaarlikse vullisterreinouditveldtog. Altesaam 17 vullisterreine is in die hele Mpumalanga besoek.
Met dié projek gaan AfriForum-takke munisipale vullisterreine na om te kyk of munisipaliteite in dié opsig die mas opkom. Volgens toepaslike wetgewing en regulasies, waaronder die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis (wet no. 59 van 2008), moet ’n vullisterrein aan bepaalde vereistes voldoen, insluitend faktore soos toegangsbeheer, onwettige storting, brandregulasies, omheining en rehabilitasie. ’n Vullisterrein moet minstens 80% behaal om aan hierdie wetgewing te voldoen. Nie een van die vullisterreine in die Mpumalanga Laeveld het dié oudit egter geslaag nie.

“Dit is skokkend om te sien dat die munisipale besture hul pligte in hierdie verband tot só mate versaak. Talle terreine voldoen nie eers aan die basiese vereistes nie. Sekere terreine het geen omheining nie en daar is ook nie masjinerie vir byvoorbeeld die kompaktering van vullis nie. Op sommige terreine het ons opgemerk dat daar mense is wat deur rommel sif vir privaat herwinning. Dit is baie onveilig, aangesien die mense nie beskermende klere dra nie,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoӧrdineerder in Mpumalanga.

Laeveld-vullisterreine se oudituitslae:

Mpumalanga (Laeveld)
Belfast Emakhazeni PM 10%
Dullstroom Emakhazeni PM 2%
Lydenburg Thaba Chweu PM 35%
Machadodorp Emakhazeni PM 6%
Middelburg Steve Twete PM 36%
Middelburg (oorlaaistasie) Steve Twete PM 44%
Nelspruit Mbombela PM 64%
Witrivier (oorlaaistasie) Mbombela PM 74%

 
Na afloop van die bekendmaking van die resultate sal AfriForum met die betrokke munisipale besture in kontak tree om moontlike oplossings te bespreek.
Raak vandag betrokke deur “Oudit” na 45350 te SMS (R1).

Soortgelyke plasings