| | |

AFRIFORUM SE BEHEERKAMER VIR GAUTENG, LIMPOPO EN MPUMALANGA HELP MISDAAD BEKAMP

AfriForum se beheerkamer vir Gauteng, Limpopo en Mpumalanga (die noordstreek) het in Mei 2021 meer as 235 gevalle hanteer en die organisasie se buurtwagte in dié provinsies ondersteun. Die doel van die beheerkamer is om AfriForum-buurtwagte te ondersteun deur te verseker dat hulp en die nodige hulpbronne vinniger ontbied kan word.

Die gevalle wat hanteer is, sluit onder meer in 25 vermiste persone, ’n moord, vier plaasaanvalle en een OTM-bom. Die AfriForum-buurtwagte in die drie provinsies het in Mei meer as ’n duisend patrollies gery: 389 in Gauteng, 191 in Mpumalanga en 442 in Limpopo. Sowat 1 030 mense het aan dié patrollies deelgeneem.

“Die beheerkamer bied oorkoepelende ondersteuning aan AfriForum-buurtwagte. Buurtwaglede op voetsoolvlak fokus meer op die taktiese kant – probleme wat ervaar word en oplossings daarvoor – waar die beheerkamer meer operasioneel funksioneer om seker te maak die nooddienste weet van die probleme,” sê Llewellynn Hemmens, AfriForum se provinsiale veiligheidskoördineerder vir die noordstreek.

“’n Tendens wat hierdie maand beduidend toegeneem het, is voertuigdiefstal. Dit het tot gevolg gehad dat ons die patrollies moes aanpas, omdat dié tipe misdaad gewoonlik baie druk op staatsinstellings met beperkte hulpbronne plaas. Ons bedank die personeel wat elke dag hul tyd opoffer om ’n verskil te maak.”

“AfriForum waarsku die publiek om nie waardevolle items in hul voertuie te laat nie en ook seker te maak dat voertuie op veilige plekke geparkeer word,” sluit Hemmens af.

Raak by jou naaste AfriForum-buurtwag betrokke en word deel van die verskil: SMS jou dorp se naam na 45353 (R1).

Soortgelyke plasings