|

TikTokker het geteister en moet skadelike video’s van platform verwyder

Die Booysens-landdroshof het beslis dat die TikTok-gebruiker Njabulo Madlanga haar skuldig gemaak het aan teistering toe sy ongestaafde bewerings van rassisme teen drie jong mans op sosiale media gemaak het. Die video’s is wyd op sosiale media versprei. Njabulo is beveel om nou dié skadelike video’s van alle sosialemediaplatforms te verwyder en nie verder die applikante te teister nie. AfriForum se privaatvervolgingseenheid verteenwoordig Reece Lopes (20), Milan Kruijer (20) en Jude Fraser-Grant (21) in hierdie saak.

Vandag se beslissing hou in dat die tussentydse beskermingsbevel, wat op 23 Oktober 2023 uitgereik is, ’n finale bevel van die hof gemaak is.

Die drie vriende het in Augustus verlede jaar ’n crimen injuria-saak teen Madlanga gelê ná sy hierdie valse en skadelike bewerings van rassisme teen hulle gemaak het. Dié bewerings, wat die trio ten sterkste ontken, is op die sosialemediaplatform TikTok gemaak waar een van hierdie video’s meer as tweemiljoen keer gekyk is.

Madlanga het in Julie verlede jaar video’s gedeel waar sy beweer dat die trio, terwyl hulle by Gold Reef City in ’n ry gewag het, geluide gemaak het wat klink soos aap-geluide. Sy het haar tot TikTok gewend waar sy vir haar volgelinge gesê het dat die trio hierdie geluide gemaak het en dat mense hierdie geluide sal maak teenoor swart mense wat dié pretpark besoek. In ’n ander video, op versoek van haar volgelinge wat die trio wou identifiseer, het sy gewys waar hulle in die ry staan. Ander gebruikers van hierdie platform het Madlanga gehelp om Lopes, Kruijer en Fraser-Grant te identifiseer – dit het daartoe gelei dat hulle gebombardeer is met aanlyn teistering en selfs doodsdreigemente.

Landdros George Mapanga het gesê dat die bewerings teen die applikante neerkom op teistering en dat dit skadelik was. “Die respondent het nie ontken dat sy die video’s op sosiale media geplaas het en dat dit kommentaar ontlok het wat neerkom op die aanhitsing van geweld nie. Die respondent is gevra om die video’s te verwyder, maar sy het dit nie gedoen nie. Die applikante se identiteite is bekendgemaak op sosiale media waar daar beweer is dat hulle rassiste is. Die optrede van die respondent voldoen aan die definisie van teistering. Dit was verkeerd en gevaarlik om sulke bewerings sonder enige bewyse te maak,” het Mapanga gesê.

Barry Bateman, woordvoerder vir die privaatvervolgingseenheid, sê hulle sal voortgaan om Lopes, Kruijer en Fraser-Grant in die strafregtelike saak teen Madlanga by te staan. “Die eenheid staan by sy vorige stelling dat valse bewerings van rassisme net so ernstig hanteer moet word as bona fide bewerings van sulke tipe diskriminasie. Ons is bly dat die hof bevind het dat die bewerings van rassisme teen die jongmense neerkom op teistering en dat dit skade berokken het. Ons is vol vertroue dat ’n kriminele hof tot dieselfde gevolgtrekking sal kom.”

Die privaatvervolgingseenheid is gestig om gelykheid voor die reg te verseker; om te verseker dat geregtigheid in alle sake sal seëvier. Valse bewerings van rassisme moet dieselfde hanteer word as werklike bewerings van rassisme want die sosiale en ekonomiese gevolge vir diegene wat valslik beskuldig word is dieselfde as diegene wat werklik skuldig is daaraan.

Die Nasionale Vervolgingsgesag moet steeds besluit of Madlanga vervolg moet word. Die privaatvervolgingseenheid neem kennis dat die TikTok plasings wel intussen verwyder is.

Soortgelyke plasings