|

AfriForum se Groblersdal-tak stig buurtwag

Die burgerregteorganisasie AfriForum het op 13 Mei ’n buurtwag in Groblersdal gestig, wat dan ook die plaaswag insluit. Hierdie buurtwag vorm deel van AfriForum se Groblersdal-tak en het ten doel om die gemeenskap in samewerking met die polisie en ander plaaslike veiligheidsinstansies in nood te help.

Die stigting van ’n AfriForum-buurtwag en in Groblersdal kom ná maande se beplanning en voorbereiding. Alle rolspelers wat omgee vir hul omgewing se veiligheid is genader om die pad vorentoe te bespreek.

“Ek is baie opgewonde oor die stigting van ons buurtwag en nooi die gemeenskap uit om by ons in te skakel. Ons kan nie langer die geveg teen misdaad op die skouers van die polisie alleen laat rus nie; ons moet self betrokke raak,” sê Coenie Meyer, voorsitter van die Groblersdal-tak.

“Die uitdagings wat ons gemeenskap met betrekking tot veiligheid in die gesig staar, vereis dat daar ’n buurtwag moet wees wat met die nodige kennis toegerus is om in noodgevalle met selfvertroue te kan optree en goeie besluitneming aan die dag te kan lê. Ons het ’n uitgebreide opleidingsprogram en sal dus spoedig daarmee begin,” sê Hendrik Kotze, AfriForum se distrikskoördineerder in Limpopo.

“AfriForum sien daarna uit om met alle veiligheidstrukture in Groblersdal saam te werk en dié dorp ’n veilige plek te maak.”

Inwoners wat graag by AfriForum se Groblersdal-buurtwag wil betrokke raak, kan ’n WhatsApp-boodskap stuur aan 072 289 5970 of ’n e-pos na voorsitter.groblersdal@afriforumtak.co.za.

Soortgelyke plasings