|

Potchefstroom-tak span groen vingers in vir groener én veiliger dorp

AfriForum se Potchefstroom-tak het die afgelope maand hul spreekwoordelike groen vingers ingespan om Potchefstroom in ’n selfs groener én veiliger dorp te omskep. Die tak het weer eens kragte saamgesnoer met GreenThorn Environmental Solutions en die plaaslike brandweer om versperrings uit Potchefstroom se geliefde Mooirivier te verwyder.

Met dié skoonmaakprojek is gefokus op plekke in die rivier waar dooie bome moontlik die vloei van water tydens swaar reëns kan verhinder en tot oorstromings van strate, brûe en geboue kan lei.

Daarbenewens het die tak ook bome gesnoei op die terrein langs die Alexanderpark-begraafplaas. Bome wat hier oorgroei, bied dikwels die ideale skuilplek vir sluipslapers. Talle vrywilligers het hand bygesit. Die tak beplan intussen om dié belangrike werk volgende jaar voort te sit en op dié manier ’n noodsaaklike bydrae tot die veiligheid van Potchefstroom te maak.

“Die werk wat die Potchefstroom-tak se omgewingsakespan doen, is van onskatbare waarde vir die omgewing. Die take wat hulle verrig is nie net noodsaaklik vir die bewaring van die omgewing nie, maar speel ook ’n belangrike rol in die bevordering van inwoners se veiligheid. Dié projekte is boonop ’n bewys van die krag wat opgesluit is in gemeenskappe wat nie net saamwerk nie, maar ook bereid is om self in te gryp,” sê Alta Pretorius, AfriForum se streekskoördineerder in die Mooirivier-streek.

Raak vandag nog betrokke by AfriForum se Potchefstroom-tak en help om ’n verskil in jou dorp te maak. Kontak vir Douglas Bourn by 083 232 1020 vir meer inligting.

Soortgelyke plasings