|

AfriForum se Kraaifontein-buurtwag skep hoop

AfriForum se Kraaifontein-buurtwag het in September in samewerking met die Kraaifontein Sektor 4B-buurtwag en die SAPD op verskeie voorvalle gereageer en verdagtes aangekeer.

Dié twee buurtwagte het twee weke gelede gereageer nadat twee vermeende rowers twee slagoffers met messe gedreig het en ’n selfoon geroof het. Die buurtwagte het ’n soektog van stapel gestuur en het danksy goeie samewerking deur die gemeenskap een van die verdagtes aangekeer. Nadat die slagoffers die verdagte positief geïdentifiseer het, is hy aan die SAPD oorhandig. Die ander verdagte het oor ’n muur gespring en ontsnap.

In ’n ander voorval het buurtwaglede twee dae later tydens ’n vroegoggendpatrollie ’n verdagte persoon met ’n gasbottel op ’n fiets opgemerk. Die patrolleerders het hom versoek om te stop, maar hy het wegjaag. Die buurtwaglede het hom agtervolg, waarna hy van sy fiets afgeval en die buurtwaglede hom aangekeer het. Die verdagte het erken dat hy die gasbottel van ’n vragmotor gesteel het. Buurtwaglede kon egter die eienaar van die vragmotor en gasbottel opspoor nadat die verdagte ’n beskrywing van die vragmotor gegee het. Die verdagte is aan die SAPD oorhandig en die eienaar het ’n diefstalsaak aanhangig gemaak.

Die buurtwagte is ook in kennis gestel van ’n motorongeluk op die N1 waar mediese hulp benodig was. Van die buurtwagte se noodhulpbeamptes het onmiddellik gereageer. Die voertuig het gerol en teen ’n betonmuur tot stilstand gekom. Daar was twee mense in die motor. Een persoon is op die toneel dood verklaar, maar die buurtwag kon daarin slaag om die ander passasier, wat geringe beserings opgedoen het, te stabiliseer. Mediese beamptes van Titanium en Cmax Security, en die SAPD was vinnig op die toneel en het oorgeneem.

“Ons is bevoorreg om deel te wees van ’n gemeenskap waar die SAPD, buurtwagte, veiligheidsinstansies en lede van die gemeenskap besef dat ons almal ’n gemeenskaplike doel nastreef, naamlik om ons omgewing te beveilig,” sê André Theron, veiligheidsvoorsitter van AfriForum se Kraaifontein-tak.

Soortgelyke plasings