|

AFRIFORUM SE KRUGERSDORP-TAK SKOP 2021 VOL ENERGIE AF

AfriForum se Krugersdorp-tak het 2021 voorwaar op ’n hoë noot afgeskop van die verlening van hulp aan die gemeenskap tydens vloede tot die #OnsSalSelf-veldtog om die gemeenskap se voorkoms te verbeter.

Patrolleerders en lede van die gemeenskap het vroeër in Januarie tydens vloede hulp aan die gemeenskap verleen. Sommige patrolleerders het tot 84 uur aaneen gewerk. AfriForum se tak het begin deur mense op die aand van die ramp te beveilig, motors uit waterslote te trek, paaie af te blok en die stad se rampbestuurspan by te staan. Die oggend ná die vloed het AfriForum saam met die gemeenskap se rolspelers noodkrete vir voedsel, klere en komberse uitgestuur vir die mense wat alles verloor het. Sowat 20 ton se goedere is oor vier dae vervoer en meeste mense is gehelp. AfriForum se buurtwag het saam met ’n kontrakteur gewerk om ’n ouetehuis se mure te herbou nadat dit deur die vloed verwoes is.

Tussendeur het die buurtwag in Januarie tydens patrollies meer as 6 000 km oor 800 uur afgelê om misdaad hok te slaan, gehelp om ’n gesteelde voertuig terug te vind en onwettige padrenne stopgesit. Die buurtwag het vandeesmaand ook saam met ander rolspelers goedere aan die plaaslike brandweer geskenk om hulle te help om hul werk suksesvol te verrig.

Verder het die Krugersdorp-buurtwag gras gesny by twee velde in die weste van Krugersdorp. Daar was onlangs ’n inbraak by ’n huis in die omgewing van die velde waarna die verdagtes in die lang gras weggekruip het. Die lang gras hou ook gesondheidsrisiko’s in omdat rommel daar gestort word.

“Dit is ’n eer en ’n voorreg om deel te wees van ’n wenspan. Sonder elke individu se tyd en opofferings sou dit nie vir AfriForum se Krugersdorp-tak en -buurtwag moontlik gewees het om so suksesvol te wees nie,” sê Martin Lombard, voorsitter van AfriForum se Krugersdorp-buurtwag.

Lombard moedig lede van die publiek aan om betrokke te raak by die tak en die buurtwag. SMS “Krugersdorp” na 45341 (R1) om by die plaaslike buurtwag aan te sluit.

Soortgelyke plasings