|

AfriForum se Meyerspark-buurtwag trek verdagtes vas

Lede van AfriForum se Meyerspark-buurtwag het op 25 Julie 2019 in samewerking met Brinant-sekuriteit en K9-sekuriteit drie verdagtes vasgetrek. Dít volg nadat ’n lid van die gemeenskap ’n video na die buurtwag gestuur het waar die verdagtes besig was om oor huise se mure te spring. Die buurtwag het onmiddellik gereageer en gehelp om die verdagtes met die hulp van die sekuriteitsmaatskappye vas te trek. Die polisie is ontbied waarna die verdagtes gearresteer is.

Volgens Alice Cory, voorsitter van AfriForum se Meyerspark-buurtwag, het die verdagtes hulself voorgedoen as kunsmisverkopers in die gebied, maar hulle het egter ’n verskuilde agenda gehad. “Die verdagtes het al vir die afgelope drie jaar in ons gebied rondbeweeg en ons kon hulle uiteindelik vastrek. Hierdie is ’n groot sukses vir ons buurtwag en die gemeenskap. Misdadigers moet weet dat daar nie plek vir hulle in ons gemeenskap is nie en dat die mense sal saamstaan teen misdaad.”

 

“Die feit dat gemeenskapslede inligting direk aan die buurtwag kan kommunikeer, maak vinnige optrede deur die buurtwag moontlik. Dit skep ook vertroue by die gemeenskap en verskerp waaksaamheid en weerbaarheid om misdaad in die gebied hok te slaan. Goeie samewerking tussen die buurtwag, polisie en plaaslike veiligheidsinstansies stel ons in staat om die gemeenskap in tye van nood by te staan,” sê Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria.

“Ek wil graag die patrolleerders, wat byna elke nag die koue trotseer om die gemeenskap te beveilig, bedank. ’n Gemeenskap wat saamstaan en onbaatsugtig hul eie tyd opoffer, maak ’n merkbare verskil,” voeg Grobbelaar by.

Soortgelyke plasings