|

AfriForum se Pretoria-Wes-tak hou omgewing skoon met nuwe toerusting

Die AfriForum-tak in Pretoria-Wes het gedurende die feesseisoen, saam met lede van die gemeenskap, verskeie areas in Danville skoongemaak.

Dié tak het aan die einde van 2021 verskeie nuwe toerusting aangekoop om die tak toe te rus om in die toekoms meer skoonmaakaksies in die omgewing aan te pak. Hierdie toerusting sluit in; bossiekappers, kettingsae, ’n grassnyer en ander masjinerie.

Die nuwe toerusting is gedurende die feestyd ingespan om Danville skoon te maak. Gras is gesny, sakke vol vullis is verwyder, sypaadjies is skoongemaak en skoongespuit, onkruid is uitgetrek en bome wat jare terug omgeval het, is in kleiner dele gesaag en verwyder.

“Dit is belangrik vir die plaaslike takke om hierdie tipe aksies saam met die gemeenskap aan te pak om ’n veilige en skoner omgewing vir almal te skep,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid. “Sekere dele van Pretoria-Wes gaan gebukkend onder misdaad en onwettige storting. Daarom moet rolspelers in hierdie omgewings sterk staan en hande vat met die gemeenskap om teen verval te veg. Waar areas skoon en netjies is, is daar positiewe groei in die gemeenskap.”

Die tak wil die gemeenskap uitnooi om hul Facebook-blad dop te hou vir soortgelyke aksies en om by die groepe op die Telegram-toep aan te sluit.

Raak vandag nog by AfriForum se Pretoria-Wes-tak betrokke om ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap te maak: SMS “Pretoria-Wes” na 45340 (R1).

Soortgelyke plasings