|

AfriForum-buurtwag help om gesteelde voertuie in Delmas terug te vind

AfriForum se Delmas Valke-buurtwag het op 26 Februarie gehelp om twee gesteelde voertuie terug te vind. Die plaaslike Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het omstreeks 14:00 inligting ontvang van ’n gesteelde voertuig. Die SAPD het op die inligting gereageer en die AfriForum-buurtwag daarvan in kennis gestel. Die voertuig se opsporingstelsel het gewys dat dit in die Delmas-omgewing is.

Skaars tien minute later het inligting deurgekom van nog ’n voertuig wat gesteel is. Die twee gesteelde voertuie was op daardie stadium naby aan mekaar geleë. Een van die voertuie het egter toe begin beweeg. Die lede het opgedeel en die tweede voertuig ook begin naspoor.

Die voertuie is onderskeidelik in die Kameeldrift- en Brooklyn-voorstede in Pretoria gesteel

Die eerste voertuig, ’n Toyota Fortuner, is by die Sasol-vulstasie in Sarel Cilliersstraat in Delmas gevind. Die verdagte wat die voertuig bestuur het, het gevlug.

Die sein van die tweede voertuig, ’n Toyota Hilux, is in Botleng, Delmas, bespeur. Die verdagte het ook gevlug maar is bekend aan lede van die SAPD wat die saak verder sal opvolg.

“Ons goeie samewerking met die SAPD en verskeie opsporingsmaatskappye maak dit vir ons moontlik om hierdie suksesse te behaal. Ons sal ook ons verdere samewerking gee sodat die verdagtes vasgetrek kan word,” sê Carel Botha, voorsitter van AfriForum se Delmas-tak.

Inwoners word versoek om AfriForum in Delmas te ondersteun: Besoek www.wordlid.co.za.

Soortgelyke plasings