|

AfriForum se Rustenburg-tak verwyder 40 vragte rommel en tuinvullis

Die AfriForum-tak in Rustenburg het in Januarie hul volhoubare skoonmaakprojek voortgesit in verskeie dele van die dorp. Die dorp se parke en oop areas is geweldig oorgroei met plante ná die goeie reën wat die afgelope twee maande in die area geval het. Die span het in Januarie gefokus op Safari Tuine en Waterval-oos, terwyl hulle ook uitgereik het na Spes Bona Huis vir gestremdes.

Die gras in die woonbuurte is gesny en rommel is ook opgetel terwyl Spes Bona se perseel opgeruim en netjies gemaak is. Ongeveer drie hektaar se gras is in Arendweg en Kloofweg gesny, en 40 bakkievragte rommel en tuinvullis is verwyder.

“Die uitdagings wat ons in Rustenburg ervaar weens munisipale verval is groot, maar AfriForum sal nie terugstaan vir hierdie uitdagings nie. Ons sal ons pogings in 2022 versnel en om dit te doen beplan ons onder meer om ons skoonmaakspan te vergroot en te versterk. Dit is vir ons belangrik om hierdie projek te prioritiseer omdat baie van die oop areas gebruik word om onwettig vullis te stort en die bebosde areas dien as skuilplek vir misdadigers,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

“AfriForum sal voortgaan om die gemeenskap te ondersteun en volhoubare projekte te identifiseer om sodoende ’n beter omgewing te probeer skep. Ons is dankbaar vir die ondersteuning wat ons ontvang vanaf lede van die publiek sowel as sakeondernemings en ons vra dat mense ons sal ondersteun waar moontlik. Dit is ons AfriForum-lede se finansiële bydraes wat hierdie projekte moontlik maak,” sê Chris Trytsman, voorsitter van AfriForum se Rustenburg-tak.

Word vandag nog deel van AfriForum se Rustenburg-tak: SMS “Rustenburg” na 45344 (R1) of skakel vir Chris Trytsman by 082 469 2221.

Soortgelyke plasings