|

Stilfontein-buurtwag, VF Plus en CSS Sekuriteit knap Kowie-sirkel en Stilfonteinweg op

Die AfriForum-buurtwag in Stilfontein, die VF Plus en CSS Sekuriteit het op 19 November ingespring en die Kowie-sirkel asook Stilfonteinweg se gras gesny en dit netjies gemaak. Meer as 10 mense het hand bygesit om die gras wat na die reёn baie welig groei, te sny. Die bome is ook gesnoei en vullis is opgetel.

“Dit is baie lekker om te sien dat die gemeenskap hande vat en eienaarskap van hul dorp neem. Dit is immers hulle wat daar woon en die omgewing dan vir hulself mooimaak,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Marius Trollip, buurtwagleier van AfriForum se Stilfontein-buurtwag, bedank die gemeenskap wat hande gevat het om ’n verskil te maak. “Hulle bereidwilligheid en toegewydheid is ’n riem onder die hart, dit maak nie saak of hulle oud of jonk is nie, hulle help en offer hulle tyd op daarvoor. Baie dankie aan die verbygangers wat koeldrank en donasies gegee het. Só help elkeen om Stilfontein weer die plek te maak om op trots te wees,” sluit Trollip af.

Indien jy by die tak wil betrokke raak, kontak vir Trollip by 082 494 4123.

Soortgelyke plasings