|

AfriForum se Stellaland-takke neem aan nasionale projekte deel

Die AfriForum-takke in Bloemhof, Christiana, Delareyville, Schweizer-Reneke, Sannieshof, Ottosdal, Hertzogville en Vryburg het gedurende September aan die nasionale blou-en-groendruppelprojek deelgeneem. Hierdie projek behels die toets van die dorpe se drinkwater asook die behandelde rioolwater wat terug in die sisteem geplaas word.

AfriForum se takke in Vryburg en Delareyville het ook aan dié burgerregteorganisasie se nasionale boomplantmaandprojek deelgeneem. Daar is altesaam 12 bome onderskeidelik geplant by die CVO-skool Vryburg, die Voorbereidingskool Vryburg, die Laer- en Hoërskool Vryburg en die tehuis vir bejaardes in Delareyville. AfriForum se takbestuurslede bedank graag die individue wat na die bome omsien wat reeds verlede jaar geplant is.

“AfriForum doen jaarliks die blou-en-groendruppelprojek om te verseker dat die water wat gemeenskappe gebruik skoon is, dat die riool wat behandel en terug in die sisteem geplaas word op standaard is en nie besoedeling veroorsaak nie. Die boomplantprojek is ook ’n baie belangrike projek. Die plant van bome bevorder nie net die omgewing nie, maar word ook gedoen om vandag se jeug aan te moedig om eendag hul eie bome te plant,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.

Die Stellaland-takke wil graag die gemeenskappe uitnooi om by toekomstigde projekte betrokke te raak.

Raak vandag nog by AfriForum se takke betrokke, en help om jóú omgewing te beveilig en skoner te maak: SMS “Jou dorp se naam” na 45344 (R1).

Soortgelyke plasings