|

Gemeenskap verwyder 70 ton waterslaai uit Vaalrivier terwyl regering sloer

Verskeie organisasie, rekreasieklubs en gemeenskapslede het op 28 Januarie by die Vaal River Lodge bymekaargekom om ’n grootskaalse skoonmaak-aksie van stapel te stuur. Saam het hierdie rolspelers 70 ton waterslaai (Pistia stratiotes) uit die Vaalrivier verwyder – nege trokke vol waterslaai is weggery.

Hierdie waterslaai groei nou al vir ’n geruime tyd die Vaalrivier toe en hou ’n bedreiging in vir die akwatiese ekostelsel. Ten spyte van die nadele het die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing, en die Departement van Water en Sanitasie (DWS) nog steeds nie ’n plan van aksie aangekondig om weg te doen met die skadelike waterslaai nie. Die verspreiding van hierdie indringer is nou al van só aard dat bote plek-plek nie eens meer kan deurgaan nie. Ongeag die hoeveelheid briewe en gesprekke met die onderskeie departemente is daar steeds geen aanduiding oor wat hulle hieraan gaan doen nie.

Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se streekshoof vir die sentraalstreek, het dié aksie goed verloop en het die gemeenskap ’n merkwaardige verskil gemaak in die area waar die aksie plaasgevind het. “Ons kon ’n wesenlike verskil sien in die area waar ons gewerk het. Ons het in ’n kwessie van vier ure heelwat waterslaai verwyder. Hoewel 70 ton waterslaai min is in vergelyking met die hoeveelheid wat steeds in hierdie rivier oor is, glo ons dat grootskaalse pogings soos hierdie kan help om die skade aan die ekostelsel te verminder,” sê Grobbelaar. 

AfriForum is egter oortuig dat as die regering nie hulle werk gaan doen om Suid-Afrika se riviere en ander natuurlike hulpbronne skoon te hou en te bewaar nie dan sal gemeenskappe begin intree en dié taak op hulself neem. “Ons sal eenvoudig nie terugstaan en toekyk hoe ons natuurlike hulpbronne verwoes word nie,” voeg Grobbelaar by.

AfriForum en ander rolspelers gaan op Saterdag, 3 Februarie, in Vanderbijlpark en Sasolburg weer ’n skoonmaak-aksie hou om nóg van hierdie waterslaai te verwyder. Spesifieke verwyderingspunte sal geïdentifiseer word. Indien vrywilligers met bote bereid is om hul bote in te span en te help met die verwydering sal dit opreg waardeer word – dit sal behels om die waterslaai na verskeie punte te stoot waar dit dan uitgehaal sal word. 

“Die ekostelsel word beskadig, die waarde van eiendom langs die rivier neem drasties af en ondernemings wat afhanklik is van ontspanningsaktiwiteite soos bootritte en visvang ly ook daaronder. Indien daar nie nou ingrypend opgetree word nie sal hierdie situasie afspeel soos die hiasinte-krisis van die Hartebeespoortdam en ons land kan dit nie bekostig nie,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder van Omgewingsake.

Voeg jou stem by hierdie saak deur hierdie skakel te volg. Indien jy betrokke wil raak by die skoonmaak-aksies, skakel gerus vir Jaco Grobbelaar by 066 565 8108 of Laurel Young by 082 883 705.

Soortgelyke plasings