water
|

AfriForum plaas die Tswaing Munisipaliteit op terme

AfriForum het op 27 September die plaaslike Tswaing Munisipaliteit op terme geplaas oor die waterkrisis wat tans in Delareyville, Sannieshof en Ottosdal heers.

AfriForum het ’n brief aan die munisipaliteit oor die huidige waterkrisis gestuur. Delareyville en Sannieshof is al vir nege dae lank sonder water. Dele van die dorpe het vir kort tye water, terwyl die groot meerderheid van die dorpe meestal sonder water is. Ottosdal is al vir byna vier weke lank sonder water. 

Die riool in Sannieshof en Ottosdal is ook ’n probleem. Daar is nie vragmotors wat op ’n gereelde basis die rioolvuil in hierdie dorpe uitsuig nie, gevolglik loop riool in die strate wat gesondheidsrisiko’s kan inhou. AfriForum het deur die loop van die jaar al verskeie briewe aan die munisipaliteit gerig sonder enige terugvoer.

AfriForum het ’n dringende beroep op die munisipaliteit gedoen om hierdie probleem binne 48 uur te takel en ’n dringende vergadering met AfriForum en ander rolspelers te reël. Die munisipaliteit moet ’n werkbare plan van aksie voorlê wat spesifiseer hoe hulle die infrastruktuur gaan verbeter sowel as hoe hulle die probleem in die toekoms gaan verhoed. AfriForum het verder versoek dat die munisipaliteit watertrokke beskikbaar stel om water aan inwoners van die geaffekteerde dorpe te voorsien.

“Dit is onaanvaarbaar dat die munisipaliteit nie optree en hierdie probleem op los nie. Geen gemeenskap kan sonder water funksioneer nie, daarom moet die munisipaliteit hul pligte nakom en water aan die gemeenskap voorsien. Riool wat in die strate vloei veroorsaak nie slegs ’n gesondheidsrisiko vir die gemeenskappe nie, maar is ook ondraaglik om elke dag mee saam te leef. AfriForum sal alles in sy vermoë doen om te verseker dat hierdie probleem opgelos word,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.

Raak vandag nog by AfriForum betrokke, en help om probleme in jou omgewing te takel: SMS “Jou dorp se naam” na 45344 (R1). 

Soortgelyke plasings