Malema vrygespreek op aanklagte van aanranding ondanks verdoemende kringtelevisiebeeldmateriaal

EFF-leier Julius Malema en EFF-LP Mbuyiseni Ndlozi is vandag vrygespreek op alle aanklagte van aanranding op die SAPD-kolonel Johannes Venter, ondanks verdoemende beeldmateriaal van die voorval. In die beeldmateriaal kan gesien word hoe Malema en Ndlozi vir kolonel Venter stoot.

AfriForum het by die saak betrokke geraak aangesien die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) aanvanklik besluit het om nie die betrokke individue te vervolg nie. Die voorval het in 2018 by die begrafnis van Winnie Mandela plaasgevind. Die burgerregteorganisasie het toe ’n brief aan die direkteur van Nasionale Vervolging (DNV) geskryf waarna die NVG aangekondig het dat die individue wel vervolg gaan word. AfriForum het ingevolge ’n waaksaamheidsopdrag in dié saak opgetree.

Die verhoor is vir etlike jare vertraag hoofsaaklik weens die verdediging wat gesondheidskwessies met betrekking tot die Covid-19-pandemie geopper het. Toe die verhoor uiteindelik weer begin het, het die staat se finale getuie herhaaldelik siekbriewe ingehandig toe sy geroep is om te getuig. Aangesien die oorspronklike klagstaat toe vermis geraak het, kon die hof nie bepaal watter party die saak in die verlede vertraag het nie. Die hof het dus beslis dat verdere uitstel vir die staat om sy finale getuie te roep nie toegestaan ​​sal word nie. Dit het ’n beduidende rol gespeel dat die staat nie sy saak bo redelike twyfel in die oë van die hof kon bewys nie. Die hof het verder bevind dat Malema en Ndlozi se optrede geregverdig was aangesien hulle geglo het dat hulle toegelaat is om die begraafplaas binne te gaan en dat die staat versuim het om hierdie subjektiewe verweer onder kruisverhoor te weerlê.

“AfriForum vind dit vreemd dat daar geen melding in die uitspraak van die meriete van die saak is dat kolonel Venter die senior leierskap van die land beskerm en as bewaker van die toegangspunt by Winnie Mandela se begrafnis opgetree het nie. Die feit dat twee prominente politici wat op kamera vasgevang word waar hulle ’n SAPD-kolonel aan diens en in uniform aanval, nie verantwoordelik gehou word vir hul dade nie, dui op die verval van die strafregstelsel. In die lig hiervan het AfriForum geen ander opsie as om sy veiligheidstruktuur verder uit te brei en te versterk nie, aangesien daar nie meer op die howe staatgemaak kan word om te verseker dat geregtigheid geskied nie,” sê Reiner Duvenage, veldtogbeampte vir strategie en inhoud, by AfriForum.

Soortgelyke plasings