AfriForum kritiseer regulasie van die Padverkeersbestuurskorporasie

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag ’n skriftelike voorlegging by die Departement van Vervoer ingedien wat regulasie 2007 van die Padverkeersbestuurkorporasie (RTMC) sterk kritiseer. Die minister van vervoer, Fikile Mbalula, het op 3 September 2021 ’n konsepwysiging van die RTMC 2007 in die Staatskoerant (nr. 45085) gepubliseer. Die publiek is uitgenooi om tot 2 Oktober 2021 kommentaar op hierdie wetsontwerp te lewer.

In kort hou die konsepwysiging onder meer verband met die geld wat betaal moet word vir dienste wat via die Nasionale Verkeersinligtingstelsel (NaTIS) gelewer word. Die konsepwysiging verhoog die bedrag van sekere transaksies en stel nuwe bykomende bedrae in vir die hernuwing van ’n rybewys. Die voorgestelde bedrae wat in die Staatskoerant gepubliseer is, sluit in ’n heffing van R250 vir motoriste vir aanlyn besprekings om hul rysbewys te hernu, sowel as R700 vir die aanlyn registrasie van motorvoertuie of vir aanlyn eienaarskapveranderings van motorvoertuie. Hierdie fooie is bykomend tot die transaksiefooi van R72 vir elke transaksie wat uitgevoer word, asook R99 vir die aflewering van die rybewys.

AfriForum het vier groot kwelpunte met betrekking tot die voorgestelde wysiging, wat in die kommentaar uiteengesit word:

1. Verwarring oor die besprekingsbedrag

2. Bekostigbaarheid

3. NaTIS-stelselfoute

4. Vae regulasies

AfriForum doen ’n beroep op die minister van vervoer om die voorgestelde wysiging te heroorweeg en die wysigings te formuleer om die ware standpunt te weerspieël. Verder sou geen wysiging redelik en billik wees as dit tot gevolg sou hê dat die publiek sou betaal vir ’n diens wat nie effektief gelewer kan word nie. As daar van ’n persoon verwag word om vooraf vir ’n diens te betaal, moet daar ’n waarborg wees dat die diensverskaffer wel hierdie diens kan lewer.

“Dit is duidelik dat dit absurd sou wees om te verwag dat mense byna R500 elke vyf jaar moet betaal vir die hernuwing van hul rybewyse  met’n stelsel wat nie effektief funksioneer nie. Boonop word daar van die publiek verwag om in te staan vir probleme wat ontstaan as gevolg van korrupsie, terwyl hulle in elk geval vir maande lank rondry met lisensies wat verval het terwyl die lisensiekantoor sy agterstand probeer uitwis,” sê Jacques Broodryk, veldtogtebestuurder by AfriForum.

Soortgelyke plasings