AfriForum voer in hof aan dat Sunfield-tehuis se subsidiebedrag verhoog moet word

Die Mpumalanga Hooggeregshof in Mbombela het vandag AfriForum se saak aangehoor rakende die onbillike subsidiebedrag wat die Mpumalanga Departement van Maatskaplike Ontwikkeling aan die Sunfield Home Fortuna buite Balfour betaal. Die burgerregteorganisasie voer saam met Sunfield aan dat dit onaanvaarbaar is dat die subsidie in die afgelope 15 jaar nog nooit verhoog is nie, en argumenteer dat dit in ooreenstemming met die inflasiekoers verhoog moet word. Sunfield Home Fortuna is ’n tehuis vir fisiek en verstandelik gestremde persone.

Die Sunfield-tehuis het AfriForum in Augustus 2022 om hulp genader toe die departement gedreig het om die tehuis se subsidiekontrak te kanselleer. Dit sou beteken dat al die inwoners verplaas moes word. Die hof het kort daarna, in September 2022, op AfriForum se aansoek ’n interdik toegeken wat die departement verbied om die kontrak te kanselleer en derhalwe dwing om voort te gaan met die betaling van die subsidie. AfriForum se aansoek om die verhoging van die subsidie tot ’n billike bedrag is vandag aangehoor sonder dat die departement se regsverteenwoordigers by die aanlyn sitting ingeskakel het.

Volgens Louis Boshoff, veldtogbeampte by AfriForum, beskik die departement oor die nodige fondse om voldoende finansiële ondersteuning aan die tehuis te bied. “Waar daar geleentheid is vir belastinggeld om aan ’n waardige doel bestee te word, sal AfriForum intree om te verseker dat dit gebeur. Dit is skokkend om te sien hoe ongeërg die ANC-owerhede staan teenoor die welstand van die kwesbaarste mense in die samelewing,” stel Boshoff dit duidelik.

Sunfield Home Fortuna ontvang sedert 2008 ’n subsidie van R1 984 per inwoner per maand. Dít terwyl daar ander tehuise in dieselfde provinsie is wat tot R15 000 per inwoner per maand ontvang.

“Dit is duidelik aan AfriForum, Sunfield Home Fortuna en enige Suid-Afrikaner met ’n sin vir geregtigheid dat ’n billike bedrag betaal moet word. Ons mag nêrens die staat se nalatigheid ongesiens laat verbygaan nie,” sluit Boshoff af.

Uitspraak is in dié saak voorbehou.

Soortgelyke plasings