|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

In ’n week wat AfriForum se privaatvervolgingseenheid nog ’n groot oorwinning behaal het, het die burgerregte-organisasie ook ’n klagte teen Julius Malema, leier van die EFF, by die Menseregtekommissie ingedien. Daarbenewens het AfriForum-takke gehelp om misdadigers vas te trek.

Oupa Chembe (52) het hierdie week in die Krugersdorp Landdroshof skuldig gepleit op ’n klag van aanranding op Zander Oosthuizen (19). Die voorval het verlede jaar in die parkeerarea van die Key West-winkelsentrum plaasgevind. Oosthuizen was ten tyde van die voorval in sy skoolklere. Daar was tekens dat daar onbehoorlike inmenging in die saak was waarna die privaatvervolgingseenheid betrokke geraak het. Chembe is ’n boete van R3 000 of gevangenisstraf van drie maande opgelê. Hy sal ook voortaan ’n kriminele rekord hê.

Julius Malema het tydens ’n EFF-saamtrek in die Wes-Kaap uitlatings aan sy ondersteuners gemaak dat hulle nie bang moet wees om dood te maak nie en dat die rewolusie dit eis. AfriForum het klagtes by die Suid-Menseregtekommissie (MRK) ingedien vir aanhitsing van geweld en haatspraak. AfriForum eis dat die MRK Malema se opmerkings ondersoek en sterk standpunt daarteen inneem. Lede van die publiek kan die webblad www.stopmalema.co.za besoek waar ’n maklike standaardklag ingedien kan word.

In Ermelo het die AfriForum-buurtwag saam met die SAPD en Spartan Training ’n gesamentlike operasie uitgevoer waar onwettige mynbedrywighede geteiken is. Daar is 271 arrestasies uitgevoer en verskeie voertuie is gekonfiskeer. Meer as die helfte van die verdagtes is buitelanders. Die buurtwag het lugbystand tydens die operasie gelewer.

Naboomspruit se AfriForum-buurtwag het gehelp om twee persone te arresteer wat ’n voertuig gesteel het. Die buurtwag in samewerking met Reflex Seecure, Naboomspruit Rural Safety, Naboomspruit CI en die Limpopo-hoofwegpatrollie het op inligting gereageer dat daar ’n gesteelde voertuig in die informele nedersetting is. ’n Ongelisensieerde vuurwapen is ook in die voertuig gevind.

AfriForum se Naboomspruit buurtwag het gehelp om ‘n gesteelde voertuig terug te kry. ‘n Ongelisensieerde vuurwapen is daarin aangetref.

AfriForum se teenboelieveldtogspan het die Laerskool Muldersdrift besoek waar inligtingsessies vir die bewusmaking van afknouery en boeliegedrag aangebied is. Leerders in gr.6 en gr.7 het ook die nuwe film, Die Val, gekyk. Hierdie film skep bewusmaking oor boeliegedrag en wys dat daar hoop is. Dié film is gratis op AfriForumTV beskikbaar.

Leandie Bräsler het leerders van die Laerskool Muldersdrift oor boeliegedrag ingelig.

Hooffoto: V.l.n.r.: Louis Ludick (AfriForum), Thalitha de Jongh (AfriForum), Annge Oosthuizen (ma van klaer), Zander Oosthuizen (klaer), Charl Oosthuizen (pa van klaer) en Andrew Leask (AfriForum).

Soortgelyke plasings