|

AfriForum se teenboelieveldtogspan en SECI skep bewusmaking oor gevare van sosiale media by Lanternskool

Die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan en Seci (Serial and Electronic Criminal Investigations), ’n misdaadeenheid van die SAPD wat elektroniese oortredings ondersoek, het op 3 Maart by Lanternskool in Roodepoort besoek afgelê. Dié veldtog dien as bewusmaking van kuberafknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery, asook kuberafknouery in skole, hok te slaan. Veilige skole sorg ook vir ’n veilige gemeenskap, nie net nou nie, maar ook in die toekoms. Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word toegerus met die nodige kennis en vaardighede om as leier in situasies op te tree waar afknouery plaasvind, met ander woorde om boeliebestand te wees. Die leerders was veral ingelig oor die gevare rondom kuberafknouery, kinderpornografie en die gevolge daarvan en gevaarlike sosiale media toepassings” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

“Dit is belangrik om bewusmaking oor die gevare van sosiale media met leerders te bespreek, want soveel meer kinders raak daarby betrokke en hulle weet nie noodwendig watter gevare en trauma dit vir hulle kan inhou nie, veral as dit kom by die deel van naakte foto’s wat al hoe meer as normaal gesien word onder die jeug. Ons help kinders om sosiale media beter te verstaan, die gevare rondom dit, die gevolge wat dit kan inhou en hoe hulle dit so spoedig moontlik kan aanmeld,” sê Johan Boshoff, adjudant-offisier van die SAPD se Gautengse misdaadeenheid wat elektroniese oortredings ondersoek.

“Die meeste kinders het toegang tot die internet, tegnologie en sosiale media, maar hulle besef nie altyd die gevare wat daarmee gepaardgaan nie. Hierdie praatjie het hulle bewus gemaak van die verskillende platforms en dat van hulle die platforms onwettig gebruik omdat hulle nie die geskikte ouderdom is nie. Leerders kon leer watter platforms gevaarliker is as ander en dat hulle nooit persoonlike inligting op sosiale media moet deel nie. Dit is ook belangrik dat hulle nie met vreemdelinge op aanlyn platforms moet klets nie. Leerders was ook gewaarsku oor kinderpornografie, die gevare oor “grooming” (seksuele voorbereiding) en dat daar ernstige gevolge, soos ’n strafregtelike oortreding kan volg sou hulle hulself skuldig maak hieraan,” sê Sonja Lombaard, onderwyser by Lanternskool.

Vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog besoek gerus www.teenboelie.co.za.

Soortgelyke plasings