|

Teenboelieveldtogspan besoek gr. 8 Verkenners van Oosterlijn Voortrekkers met #DieValFilm by Sol-Tech-kampus

Die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 3 Maart die gr. 8 Verkenners van Oosterlijn Voortrekkers by die Sol-Tech-kampus in Pretoria besoek. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery onder die jeug. AfriForum het verlede jaar op 10 September 2022, Wêreldselfdoodbewusmakingsdag die film, Die Val, vrygestel.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met ons land se jeug te werk om ’n verskil te maak en afknouery in gemeenskappe en skole hok te slaan. Veilige skole sorg ook vir ’n veilige gemeenskap, nie net nou nie, maar ook vir die toekoms. Die leerders het #DieValFilm op AfriForumTV gekyk. Hierdie film skep bewusmaking oor boeliegedrag en selfdood en bemagtig leerders met die nodige kennis en vaardighede om as ’n leier in situasies op te tree waar afknouery plaasvind – om boeliebestand te wees. Hierdie film fokus veral ook op kuberafknouery, juis omdat dit deesdae ’n groot probleem onder tieners is,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

“Vir waardegedrewe leiers is dit belangrik om te let op die welstand van ander en om jou medeleerders se nood te kan raaksien en daarop te reageer.  In Die Voortrekkers kweek ons ’n ingesteldheid by leerders, veral op hoërskool, om diensbare leiers te wees wat waardegedrewe besluite neem om sodoende ’n gemeenskap te help bou wat hul sosiale verantwoordelikheid teenoor mekaar verstaan en dít wat daarmee gepaardgaan tot almal se voordeel kan uitleef. Die Voortrekkers bied leerders die geleentheid om nouer te kan skakel met ander organisasies en belangegroepe om te verseker dat selfdood en boeliegedrag by tieners uitgeskakel kan word,” sê Mauritz Meiring, Oord Oosterlijn se sekretaris. 

#DieValFilm kan gratis op AfriForumTV by www.afriforumtv.co.za gestroom word. Die toepassing kan ook op Google Play Store, of die App Store afgelaai word. Vir meer inligting oor die film, besoek gerus www.dievalfilm.co.za.

Stuur ’n e-pos na tania.scheepers@afriforum.co.za as jou kind se skool by hierdie veldtog betrokke wil raak.

Soortgelyke plasings