|

AfriForum se Thabazimbi-tak in proses om reservoirs te herstel

Die AfriForum-tak in Thabazimbi het Saterdag 11 Mei begin om die reservoirs in Jordaanstraat skoon te maak. Tydens die eerste fase is die pad na die reservoirs oorgedoen. Die pad was heeltemal toegegroei met gras en bosse. Dit het die hele Saterdag geneem om die gras en bosse te sny.

Noudat daar weer ’n toeganklike pad is om by die reservoirs uit te kom, kan die volgende fase van die projek begin. Tydens die tweede fase sal die water wat die afgelope vyf jaar vrot geword het, uitgepomp word om die reservoirs skoon te was en die geroeste pype te vervang. Die woongebied wat water van dié reservoirs ontvang, gaan al vir vyf jaar gebuk onder watertekorte. Daar word beplan om al vier die reservoirs binne die volgende ses maande weer in ’n werkende toestand te kry. Dit sal beteken dat ’n addisionele 14 120 mega liter water by die netwerk geplaas word.

Die AfriForum-tak in Thabazimbi het in November 2023 begin om straatname op die randstene te verf nadat vandale die dorp se borde met straatname afbreek het. Hierdie projek het uitgekring na padtekens – waaronder stopstrate en spoedhobbels – wat op paaie oorgeverf word. Die tak het op 9 Mei spoedhobbels onder meer in Steenbokstraat geverf.

Luidens Barry Knuppe, ondervoorsitter van AfriForum se Thabazimbi-tak, is die tak baie dankbaar vir die gemeenskap wat met kundigheid en skenkings help om die groot projekte aan te pak en Thabazimbi weer tot sy regmatige plek te herstel.

Knuppe nooi belangstellendes om by die AfriForum-tak en -buurtwag in Thabazimbi betrokke te raak: Besoek www.wordlid.co.za.

Soortgelyke plasings