|

AfriForum se veiligheidspan staan metropolisie by tydens onrus in Pretoria

Die burgerregteorganisasie AfriForum se gemeenskapsveiligheidafdeling het vandag die Tshwane Metropolisiediens (TMPD) bygestaan tydens geweldadige betogings in Pretoria.

Die LUR vir gemeenskapsveiligheid in Tshwane, Grandi Theunissen, het AfriForum genader vir bystand en gevra dat AfriForum se lugvleuel sy hommeltuie ontplooi om tydsensitiewe inligting aan die TMPD te verskaf met betrekking tot die betogers se ligging en aktiwiteite.

AfriForum-buurtwaglede, gemeenskapspolisiëringsforums en wetstoepassers het ook die situasie waargeneem en die gesamentlike operasionele sentrum van die nodige inligting verskaf.

Die veiligheidspan se hommeltuie het die Centurion sowel as Olievenhoutbosch-omgewing gefynkam en nog hommeltuie is op bystand geplaas sou die betoging na ander gebiede uitbrei.

Betogers het ontwrigting veroorsaak by die Highlands-winkelsentrum in Centurion en het ook na die Lyttelton polisiekantoor begin beweeg maar te danke aan vinnige optrede en samewerking tussen die verskillende rolspelers is die situasie gou ontlont.

Die onrus is veroorsaak deur munisipale werkers wat gestaak het oor ’n loondispuut.

“AfriForum het verskeie buurt- en plaaswagte landswyd wat gereeld kragte saamsnoer met wetstoepassingsowerhede. Vandag se gebeure het net weereens bewys hoe effektief dit kan wees wanneer wetstoepassers en gemeenkapsveiligheidstrukture saam werk om gemeenskappe en eiendom te beveilig,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se veldtogtebestuurder

Soortgelyke plasings