|

Clover-moord: Borgaansoek van beskuldigdes in moordsaak van oud-Recce uitgestel

Die twee beskuldigdes wat aangekla word van onder meer die moord op Terence Tegg, die oud-Recce wat tydens die Clover-staking dood is, asook poging tot moord op J.J. Cassanga, een van die wagte wat ernstige beserings tydens die brutale aanval opgedoen het, se borgaansoek is vandag op versoek van die verdediging in die Tembisa Landdroshof tot 24 Maart 2022 uitgestel. AfriForum se privaatvervolgingseenheid staan tans vir Michele Bebbington by wat verloof was aan Tegg, asook vir die Cassanga-familie om te verseker dat die saak die nodige aandag geniet. Cassanga is onlangs uit die hospitaal ontslaan

Adv. Gerrie Nel, die hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het aangedui dat lede van die polisiebestuur aan AfriForum ’n boodskap gestuur het dat  hulle die privaatvervolgingseenheid se betrokkenheid in hierdie saak verwelkom.

Die uitstel volg nadat die beskuldigdes se regsverteenwoordigers aanvanklik vandag die borgaansoek sou bring, maar later aangedui het dat hulle nie gereed was nie omdat hulle  vanoggend eers daarvan bewus geword het dat addisionele klagtes, onder meer kwaadwillige saakbeskadiging en roof, tot die klagstaat gevoeg is. Hierdie klagtes volg nadat dit aan die lig gekom het dat die stakers vir Tegg en Cassanga na bewering van hul vuurwapens beroof het, asook dat Tegg se beursie tydens die brutale aanval gesteel is. Gerugte in die hofgange doen verder die rondte dat die unies, wat die ongemagtigde stakings gereël het, een van die beskuldigdes se regsverteenwoordiger befonds.

“Ons sal voortgaan om vir Michele, die Tegg-familie en die Cassanga-familie by te staan, asook om saam met die ondersoekbeampte en Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) te werk om te verseker dat geregtigheid geskied. Hierdie was ’n brutale aanval op persone wat bloot hulle werk wou doen. Die  vermeende aanvallers, deur deel te neem aan die ongemagtigde staking, het geen respek vir die reg gewys nie en in die proses het hulle vir Tegg vermoor, Cassanga ernstig beseer en hulle van hul vuurwapens beroof. Hierdie vuurwapens is verder volgens ons inligting nog nie teruggevind nie en ons moet aanvaar dat dit nou deel vorm van gevaarlike misdadigers se arsenaal,” sê adv. Nel.

Soortgelyke plasings