AfriForum se Vryburg-tak koop onderdele aan om waterpomp te herstel


Die AfriForum-tak in Vryburg was verlede week genoop om onderdele vir ’n foutiewe waterpomp aan te koop om sodoende die waterskaarste in dié dorp te verlig. Die herstelde pomp verskaf ongeveer 500 000 liter ekstra water aan Vryburg, wat reeds onder waterbeperkings gebuk gaan. Dit is ironies dat die Naledi Plaaslike Munisipaliteit nie R3 400 bymekaar kon skraap om die onderdele aan te koop nie, aangesien eenvoudige herstelwerk een van die munisipaliteit se primêre funksies is.

Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland, is dit onrusbarend dat die munisipaliteit nie waterverskaffing prioritiseer nie. Die plaaslike en distriksmunisipaliteit is voortdurend in konflik oor wie die verantwoordelikheid vir diensteverskaffing in Vryburg moet aanvaar en intussen ly die verbruikers, wat hulle diensgeld en belasting getrou betaal, daaronder. Die gemeenskap raak egter nou keelvol daarvoor.

“Onbekwame mense word voortdurend aangestel en gevolglik is die hele infrastruktuur van alle afdelings in die munisipaliteit in ’n skokkende toestand. Daar is min kundige mense wat onderhoudswerk doen en hulle word verder gekortwiek deur die gebrek aan befondsing om onderdele aan te koop. Die blote feit dat geen verskaffer in Vryburg meer iets aan die munisipaliteit wil verskaf voordat hulle betaal word nie, spreek boekdele,” meen Pretorius.

Word deel van die AfriForum-tak in Vryburg en dra by tot ’n welvarende gemeenskap.

Soortgelyke plasings