|

AfriForum se Witrivier-tak en sakelui trek nuwe (geverfde) baadjie aan vir Gracelink-skool

Die Gracelink-skool in Witrivier het nou ’n nuwe (geverfde) baadjie aangetrek danksy AfriForum se Witrivier-tak en ’n groep privaat ondernemings wat ingespring het om die skool se klasse, slaaplokale en badkamers oor te verf. Dié opknappingsprojek is in samewerking met Multiknit, Sakpro en Knittex aangepak in ’n poging om die algehele voorkoms van dié privaat skool, wat met beperkte fondse noodsaaklike gemeenskapswerk verrig, te verbeter en om agteruitgang van die skoolinfrastruktuur hok te slaan.

Volgens Arlo van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mpumalanga Laeveld, het die Witrivier-tak 40 liter verf ter waarde van R3 000 vir die projek geborg. “Deur hierdie skenking het die AfriForum-tak ’n belangrike bydrae gemaak om te help toesien dat die fasiliteite van dié skool opgeknap word. Dié skynbaar eenvoudige projek sal uiteindelik ook ’n positiewe impak op die leerders se leerervaring hê,” verduidelik hy.

“Ons is trots om deel te wees van hierdie projek en ons waardeer die samewerking met Multiknitt, Sakpro en Knittex wat dié projek moontlik gemaak het,” sê Christo Havenga, ondervoorsitter van AfriForum se Witrivier-tak.

“Skole vorm ’n kritieke deel van die gemeenskap en as gemeenskapsorganisasie is dit vir ons ’n voorreg om tot die skool en sy leerders se welstand by te dra.”

AfriForum se Witrivier-tak is verbind tot praktiese en gemeenskapsgebaseerde projekte waardeur positiewe verandering in die gemeenskap bewerkstellig kan word.

Jý kan ook ’n verskil maak!

Het jy ook ’n hart vir jou gemeenskap? Wil jy ook moue oprol en deur middel van positiewe projekte ’n verskil in die Witrivier-gemeenskap maak? Dan is dit nou tyd om in te skakel by AfriForum se Witrivier-tak. Besoek www.wordlid.co.za.

Soortgelyke plasings