|

AfriForum se privaatvervolgingseenheid sal vervolging van Bizos voortsit

Die verhoor van Alexis Bizos, seun van adv. George Bizos, op ’n klag van aanranding met die opset om ernstig te beseer sou vandag in die Johannesburgse landdroshof begin het. Adv. Phyllis Vorster, aanklaer by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het as aanklaer verskyn namens die slagoffer, Monique van Oosterhout (Alexis se vervreemde vrou). Die verhoordatum is tot 23 Februarie 2022 uitgestel nadat Bizos sonder enige verduideliking op die nippertjie besluit het om nuwe prokureurs aan te stel.

Die verdedigingspan het ook vanoggend op rekord geplaas dat, hoewel daar ’n verhoordatum vasgestel is, die beskuldigde se advokate in Februarie betrokke is by geregtelike doodsondersoek rakende die Life Esidimeni-voorval waarby die privaatvervolgingseenheid óók betrokke is.

“Die privaatvervolgingseenheid was gereed om vandag voort te gaan met die verhoor en het reeds met getuies gekonsulteer. Dit blyk egter dat die beskuldigde vertragingstaktieke inspan met die hoop dat hierdie saak sal verdwyn. Ons sal egter nie toelaat dat dit gebeur nie en ons fokus is nou om te verseker dat die verhoor in Februarie sal voortgaan sonder enige verdere vertragings. Ons erken ’n beskuldigde se reg op die regsverteenwoordiger van sy keuse, maar hierdie reg kan nie gebruik word om ’n saak onredelikerwys te vertraag tot nadeel van die slagoffer en die breër gemeenskap nie,” sê Natasha Venter, adviseur by die privaatvervolgingseenheid.

Bizos het Van Oosterhout na bewering in 2015 aangerand en ses van haar ribbes gebreek. Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het aanvanklik geweier om hom te vervolg. Nadat AfriForum in 2018 aangekondig het dat hulle aansoek gedoen het vir ’n nolle prosequi-sertifikaat om Bizos te vervolg, het die NVG in ’n handomkeer beslissing aangekondig dat hulle wel vir Bizos gaan vervolg. Bizos is daarna uitgenooi om vertoë te rig aan die NVG voordat die vervolging ingestel sou word. Ná ontvangs van Bizos se vertoë het die NVG weereens besluit om nie te vervolg nie. Van Oosterhout het daarna weer aansoek gedoen om ’n sertifikaat om Bizos privaat te vervolg.

Soortgelyke plasings