AfriForum skerp veiligheidsmaatreëls in Pretoria op tydens kragonderbrekings


Groot gedeeltes van Pretoria is die afgelope ruk sonder krag gelaat nadat die Wapadrand-substasie afgebrand het. Dit het tot ’n toename in misdaad gelei, wat AfriForum genoop het om veiligheidsmaatreëls in hierdie gebiede op te skerp.
AfriForum-buurtwagte het sedert die kragonderbrekings meer sigbaarheidspatrollies uitgevoer. ’n Eksterne sekuriteitsmaatskappy (Hi Risk Unit) help ook sedert 16 Julie op AfriForum se versoek om bykomende sekuriteit aan inwoners te bied.

“Die gemeenskap ly reeds genoeg as gevolg van kragonderbrekings en behoort nie ’n toename in misdaad ook in die gesig te staar nie. AfriForum se veiligheidsafdeling wil die gemeenskap tot die beste van ons vermoë bystaan en sigbaarheidspatrollies soos hierdie is ’n goeie manier om misdadigers af te skrik,” sê Hillel Coetzer, AfriForum se veiligheidskoördineerder vir die noordstreek.
“Ons dra die gemeenskap se belange op die hart en weet dat dit belangrik is dat belangegroepe saamwerk om misdaad te bekamp,” sê Reg Crewe, van die Hi Risk Unit.

Raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum-tak betrokke: SMS jou naam na 45353 (R1).

Soortgelyke plasings