|

AfriForum staan slagoffer by ná ongegronde klag oor k-woord

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het aansoek gedoen om ’n nolle prosequi-sertifikaat om ’n werknemer privaat te vervolg wat bedrieglike klagtes van rassisme teen sy kollega by die polisie ingedien het. Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) weier om die klaer te vervolg.

AfriForum is van voorneme om Sello Mojela privaat te vervolg vir crimen injuria nadat hy valslik ’n klag van rassisme teen sy kollega André Fourie ingedien het. Dit sal deel vorm van ’n groter veldtog deur AfriForum teen bedrieglike klagtes van rassisme.

Dit volg nadat Mojela by die werksplek ná ’n meningsverskil met Fourie valslik aangevoer het dat Fourie hom (Mojela) ’n “bobbejaan” genoem het – hy het dit ook skriftelik aangedui in die werk se griefskrifprosedure. Daarna het Mojela egter sy weergawe verander toe hy op grond van die voorval ’n klag by die polisie gaan lê het en in sy eedsverklaring valslik aangevoer het dat Fourie hom die k-woord genoem het.

Fourie het AfriForum se privaatvervolgingseenheid genader wat hom geadviseer het om klagtes van crimen iniuria teen Mojela by die polisie in te dien nadat Fourie se werkgewer hom afgedank het en die polisie hom in hegtenis wou neem.

Die polisie het die saak ondersoek en na die NVG vir vervolging verwys. Die NVG het egter geweier om Mojela te vervolg.

“Die NVG se versuim om vervolging in Fourie se saak in te stel, is nie net ’n verydeling van die reg nie, maar ’n bedreiging vir sosiale samehorigheid in die land, aangesien valse aantygings soos hierdie rassespanning in die land verder aanvuur,” sê Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum.

Volgens Roets het Fourie se reputasie het daadwerklike skade gely as gevolg van Mojela se valse aantygings. “Dit is onaanvaarbaar dat mense wat valse bewerings van rassisme maak skotvry daarvan afkom, terwyl dit verreikende en nadelige gevolge inhou vir diegene teen wie dit gerig word. Dit stuur die verkeerde boodskap aan die samelewing uit en kan aanleiding daartoe gee dat nóg sulke ongegronde aantygings gemaak word,” sê Roets.

Soortgelyke plasings